Nuus 13:00
BULLETIN 22 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie het steeds nie die korrupsie-beskuldigde Edwin Sodi se maatskappy op ‘n swartlys geplaas nie
# Eskom bereik 26 dae sonder beurtkrag
# En, tennis: Swiatek vier 100 weke as wêreld nommer een
# Die korrupsiebeskuldigde Edwin Sodi se maatskappy, Blackhead Consulting, is nog steeds nie op die Nasionale Tesourie se swartlys geplaas nie ondanks ‘n versoek van die Stad Tshwane in Februarie. Die maatskappy was deel van ’n vennootskap wat in 2019 gekontrakteer is om die metro se Rooiwal-watersuiweringsaanleg op te gradeer. Die tender van 295-miljoen-rand is onreëlmatig bevind en vyf senior amptenare van die stad is geskors. Corruption Watch sê die swartlys van maatskappye behoort ‘n eenvoudige administratiewe stap te wees.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die probleme by die Kaapstadse hawe is kommerwekkend. Die hawe is wel nie meer onder die top-30 op Linerlytica se lys hawens met die ergste vertragings, en het dié week na nommer 50 verbeter. Dit was verlede week in die 49ste plek en die vorige week nommer 26. Winde sê ‘n funksionele houer-eindpunt oor die volgende vier jaar kan 5,6-miljard-rand in ekonomiese groei beteken en 20-duisend nuwe werksgeleenthede skep:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het aangekondig Eskom het nou reeds vir 26 dae ononderbroke elektrisiteit verskaf. Die minister het tydens ‘n nuuskonferensie oor die energie-aksieplan gesê dis te danke aan ‘n toename in beplande instandhouding en die verbeterde prestasie van opwekkingseenhede. Hy waarsku hoewel die land nader daaraan is om beurtkrag te beëindig, bly die stelsel kwesbaar:
# Die Israeliese weermag het aangekondig die hoof van sy intelligensie-direktoraat het bedank nadat hy verantwoordelikheid aanvaar het vir mislukkings wat gelei het tot Hamas se ongekende aanval op 7 Oktober verlede jaar. Generaal-majoor Aharon Haliva is die eerste hooggeplaaste amptenaar wat bedank omdat hy nie die aanval kon verhoed wat Israel en die internasionale gemeenskap geskok het nie. Haliva het in sy bedankingsbrief aanspreeklikheid aanvaar omdat hy misluk het om die aanval te verhoed.
# Tennis: Iga Swiatek van Pole vier vandag honderd weke as die wêreld se nommer-eenspeler. Dit plaas haar negende op die algehele lys. Maar daar is ‘n paar spelers wat in haar nek blaas, soos Elena Rybakina van Kazakstan, wat haar verlede week in die Stüttgart-ope geklop het. Aryna Sabalenka van Belarus het in September verlede jaar vir ‘n rukkie oorgeneem as wêreld nommer een, terwyl die Amerikaner Coco Gauff ook ‘n aanspraakmaker is. Die WTA-toer is dié week in Spanje vir die Madridse Ope.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-967-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….