Nuus 12:00
BULLETIN 22 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verloor sy handelsmerksaak teen die MK-party
# Business Leadership SA sê die IMF se vooruitsig vir die land is neerdrukkend
# En, motorsport: Mercedes doen broodnodige opgraderings vir Miami
# Die Hooggeregshof in Durban het die ANC se handelsmerk-saak teen die MK Party met koste van die hand gewys. Die regerende party het die MK Party beskuldig dat hy die Wet op Handelsmerke oortree deur ‘n naam en kenteken te gebruik wat soortgelyk is aan dié van die ANC se militêre vleuel wat vroeër ontbind is. Die ANC het aangevoer die gebruik van die naam kan kiesers in die komende verkiesing verwar.
# Business Leadership South Africa sê die Internasionale Monetêre Fonds se vooruitsigte vir die land is ‘n neerdrukkende vermaning oor hoe ver die land is van die soort ekonomiese prestasie wat dit behoort te handhaaf. Die fonds het Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte vir die jaar tot 0,9-persent verlaag. Die organisasie se bestuurshoof, Busisiwe Mavuso, sê die IMF se vooruitsig weerspieël die talle uitdagings waarmee die ekonomie te kampe het, van die logistieke krisis tot voortdurende elektrisiteitstekorte en die breër infrastruktuur-mislukkings. Sy sê die regering moet hervormings versnel.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die probleme by die Kaapstadse hawe is kommerwekkend. Die hawe is wel nie meer onder die top-30 op Linerlytica se lys hawens met die ergste vertragings nie, en het dié week na nommer 50 verbeter. Dit was verlede week in die 49ste plek en die vorige week nommer 26. Winde sê ʼn funksionele houer-eindpunt oor die volgende vier jaar kan 5,6-miljard-rand in ekonomiese groei beteken en 20-duisend nuwe werksgeleenthede skep:
# Motorsport: Die hoof van Mercedes se Formule Een-span, Toto Wolff, sê hulle gaan opgraderings doen aan hul motor vir die Miami Grand Prix. Die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton, wat sy swakste begin vir ‘n F1-seisoen beleef, het negende geëindig in die Chinese Grand Prix, met sy spanmaat George Russell in die sesde plek. Wolff sê groot veranderings is nodig aan die motor wat spoed en versnelling betref:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-117-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte, die stigter van Young Hearts Africa, dokter Wilhelm Lichtenberg, sê hy wil meer kinders met aangebore hartsiekte groter toegang tot mediese sorg gee terwyl hy navorsing en opleiding bevorder om die gaping in vaardighede te oorbrug. Hy het die Thoracic Surgery Foundation Every Heartbeat Matters-toekenning gekry vir sy werk om lewensreddende operasies te voorsien aan Suid-Afrikaanse kinders met die siekte. Lichtenberg sê Young Hearts Africa in samewerking met die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad het reeds 30 kinders met die toestand suksesvol geopereer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….