Nuus 06:00
Bulletin Opskrifte
BULLETIN 22 April 6 VM
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê hy het nuwe bewyse dat die ANC staatsfondse gebruik om stemme te werf
# Die VF Plus sê hy sal nie ‘n koalisie vorm met die ANC, EFF, of MK-party nie
# En beurtkrag is steeds opgeskort
# Die DA sê hy het nuwe en verdoemende bewyse wat bevestig die ANC is van voorneme om belastingbetalersgeld te gebruik om stemme te werf. Die party het verlede week ‘n klag teen die regerende party by die Openbare Beskermer ingedien vir die beweerde misbruik van openbare hulpbronne. Die DA-leier, John Steenhuisen sê in ‘n uitgelekte opname van ‘n vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee vroeër die maand, het die party se bestuur na bewering senior openbare ampsdraers opdrag gegee om belastingbetalersgeld te gebruik om vir die verkiesingsveldtog te betaal:
# Die leier van die Vryheidsfront Plus Pieter Groenewald het sy party se standpunt herbevestig teen koalisies met, wat hy radikale partye noem, soos die ANC, EFF of uMkhonto we Sizwe. Groenewald beklemtoon die party se toewyding aan die Veelparty-handves en vra die verwydering van die ANC om plek te maak vir ‘n nuwe regering. Hy sê die party bly gekant teen grond-onteiening sonder vergoeding omdat die beskerming van grondeienaarskap die grondslag is van ‘n demokrasie.
# Eskom sê beurtkrag bly opgeskort tot verdere kennisgewing, weens volgehoue opwekkingsvermoë en voldoende noodreserwes. Die land is vandag 26 dae sonder beurtkrag, wat die 20 opeenvolgende dae oortref wat in Junie 2022 behaal is. Die kragvoorsiener sê twee-duisend-660 megawatt sal teen vanaand herstel word. Eskom sê hy is steeds daartoe verbind om beurtkrag uiteindelik uit te skakel.
# Die polisie in Tshwane het ‘n soektog van stapel gestuur ná die moord op die gewilde komediant en platejoggie, Peter Mabuse. Hy is gister in die vroeë oggendure in ‘n koeëlreën dood nadat hy in Soshanguve, noord van Pretoria, opgetree het. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Noxolo Kweza, sê Mabuse is in die hospitaal dood terwyl nog ‘n slagoffer wat saam met hom was ten tyde van die voorval, gewond is:
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu het onderneem om sanksies te beveg teen Israelse militêre eenhede. Dit volg na berigte dat ‘n eenheid van die Israelse weermag, die Netzah Yehuda-bataljon, Amerikaanse sanksies in die gesig staar oor sy optrede teen Palestyne in die Wesoewer. Die eenheid word beskuldig van ernstige menseregteskendings. Netanyahu sê in die oorlog teen Hamas is die instel van sanksies teen ‘n eenheid van die hulle weermag die hoogtepunt van absurditeit en ‘n morele laagtepunt.
# Gholf: Chiara Tamburlini van Switserland het die Johannesburgse Vroue Ope met sewe houe by die Modderfontein Gholfklub gewen. Dit is die grootste voorsprong in die toernooi se tien jaar lange bestaan. Dit is haar eerste Vroue Europese toer. Thailand se Aunchisa Utama is in die tweede plek op tien onder met ‘n finale rondte van 71, terwyl Nicole Garcia as die voorste Suid-Afrikaner vyfde is op agt onder baansyfer ná ‘n finale rondte van 70. Tamburlini sê haar eerste oorwinning is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-542-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-380-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….