Nuus 11:00
BULLETIN 21 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid kyk na die Departement van Water en Sanitasie se finansiële verliese
# President Cyril Ramaphosa sê die afgelope vyf jaar was gefokus op die heropbou van Suid-Afrika
# En, driekamp: Suid-Afrika se kaptein Matt Trautman jaag vandag sy eerste Ironman African-oorwinning
# President Cyril Ramaphosa het ‘n ondersoek goedgekeur deur die Spesiale Ondersoekeenheid na wanadministrasie en finansiële verliese in die Departement van Water en Sanitasie. Dit sluit die War on Leaks-projek in, om 15-duisend jongmense op te lei om vermorsing te voorkom. Die projek is in 2015 onderteken deur die destydse Water- en Sanitasieminister, Nomvula Mokonyane, vir Rand Water om landwyd bykans sewe-miljard-rand se waterlekkasies te keer. Ander ondersoeke sluit in onreëlmatige aanstellings en betalings aan Rand Water en die Energie- en Watersektor-opvoedings- en Opleidingsowerheid tussen 2015 en 2019.
Op die verkiesingsfront sê Ramaphosa die afgelope vyf jaar was toegespits op die heropbou van Suid-Afrika. Hy het stemme gewerf in eThekwini, KwaZulu-Natal, en gesê die regering het die grondslag gelê vir groei, wat infrastruktuur en werkskepping insluit. Ramaphosa beklemtoon die aanspoor van beleggersvertroue en spreek vertroue uit in voortgesette regering deur die ANC:
# Die minister en adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy en Makhotso Sotyu, onthul volgende week die Gemeenskapsboshou-ooreenkomste en Oordragmissie in Butterworth in die Oos-Kaap. Die mylpaal sluit 19 ooreenkomste in as deel van die oordrag van 26 plantasies oor drie jaar aan tradisionele rade in die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal. Die inisiatief stem ooreen met volhoubare bosboubestuur en wil gemeenskappe bemagtig en hulle deelname aan die mark stimuleer.
# Minstens 58 begrafnisgangers is dood nadat ‘n oorlaaide rivierboot in die Sentraal-Afrikaanse Republiek se hoofstad Bangui omgeslaan het. Volgens ooggetuies en video’s op sosiale media was daar meer as 300 mense op die houtboot toe dit in die Mpoko-rivier gesink het. AFP berig die vaartuig was op pad na die begrafnis van die stamhoof van ‘n dorp sowat 45-kilometer van Bangui. Reddingsdienste het 40 minute na die ramp opgedaag.
# En, laastens, driekamp: Die 19de Ironman African-kampioenskap het in Gqeberha afgeskop. Suid-Afrika se kaptein Matt Trautman sê hy jaag vandag ‘n oorwinning ná verlede jaar se pap wiel-terugslag. Een-en-vyftig atlete neem deel, met 40-persent uit die buiteland, wat die meeste buitelanders ooit is. Die sterk manne swem 3,9-kilometer, lê 180,2-kilometer op fietse af en hardloop 42-kilometer. Trautman sê hy hoop dinge werk vandag vir hom uit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….