Nuus 18:00
BULLETIN 19 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lede van die Gupta-bende word elk sewe lewenslange vonnisse opgelê vir ‘n massa-skietery in Khayelitsha
# Die voorste drie atlete in die Beijingse half-marathon word gestroop van hulle medaljes
# En, ‘n verslag toon daar is ‘n medium risiko van terreurbefondsing in SA se sektor vir organisasies sonder winsbejag
# Die Hooggeregshof in Kaapstad het twee lede van die sogenaamde Gupta-bende, Gcinithemba Bheja en Fundile Maseti, sewe lewenslange vonnisse plus 45-jaar regstreekse gevangenisstraf opgelê ná hul skuldigbevinding aan ‘n massaskietery in Khayelitsha in die stad vier-jaar gelede. Die hof het hulle skuldig bevind aan veelvuldige moorde, poging tot moord, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag sê hierdie vonnisoplegging stuur ‘n sterk boodskap uit teen bendegeweld:
# Die Departement van Gesondheid sê werwingspogings duur voort om onbefondsde vakante poste te aktiveer en meer gesondheidswerkers te werf om op ‘n betekenisvolle manier tot die openbare gesondheidstelsel by te dra. Meer as twee-duisend gesondheidswerkers is tussen Januarie en Maart aangestel. Die departement werk steeds nou saam met provinsiale Gesondheidsdepartemente om meer gesondheidswerkers te werf en personeelbehoeftes in die openbare gesondheidstelsel aan te pak. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, hoop die aanstellings sal kritieke vakante poste regoor die land vul:
# Iran se president, Ebrahim Raisi, het Teheran se vergeldingsaanval op Israel byna ‘n week gelede geprys, maar nie melding gemaak van die ontploffings wat in sy land se sentrale streek gehoor is nie. Wêreldleiers het gevra vir die afwenteling van die konflik nadat Amerikaanse media amptenare aangehaal het wat sê Israel het vergeldingsaanvalle op Iran uitgevoer weens Iran se aanval op die land. Raisi het in sy toespraak geen melding gemaak van die ontploffings nie. Daar was ook geen amptelike reaksie deur Iranse of Israelse amptenare nie.
# Padwedlope: Die top-drie in Sondag se Beijingse halfmarathon is van hul medaljes gestroop. Dit volg op ‘n ondersoek na die einde van die marathon, waar He Jie van China op omstrede wyse gewen het. Hy het die eindstreep eerste oorgesteek in ‘n bisarre oorwinning, nadat die Keniane, Robert Keter en Willy Mnangat, asook Dejene Hailu van Ethiopië, hom skynbaar doelbewus toegelaat het om te wen. Beeldmateriaal van die einde van die wedloop het sosiale netwerke laat gons. Die organiseerders sê die trofees, medaljes en bonusse sal van die drie wenners verhaal word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-912-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-388-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-49-sent per vat.
# En, laastens: Die risiko van terreurbefondsing in Suid-Afrika se sektor vir organisasies sonder winsbejag word volgens ‘n samewerkende verslag as middelmatig beskou. Sleutelbedreigings sluit in I-S, Al-Sjabaab en binnelandse ekstremiste. Kwesbaarhede sluit in organisasies wat deur individue met terroriste-bande bedryf word en diegene in hoërisikogebiede. Die verslag, wat deur regerings- en privaat sektor- vennote saamgestel is, vorm deel van die land se take om Suid-Afrika van die gryslys af te kry. Die assessering lig geteikende maatreëls in om risiko’s te versag en die sektor te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….