Nuus 11:00
BULLETIN 19 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Politieke ontleder sê Ramaphosa se tyd in sy amp is beperk
# Iran is ongeërg oor die Israelse aanval
# En motorsport: F1 is ná vyf jaar terug in China
# Die politieke ontleder, Daniel Silke, sê die einde van president Cyril Ramaphosa sy ampstermyn is moontlik in sig, met die ANC wat dalk swak gaan presteer in volgende maand se verkiesing en Ramaphosa se populistiese teenstanders wat sy bloed soek. Silke skryf in ‘n meningstuk in Business Day dat Ramaphosa uiteindelik verwyt sal word as die ANC onder 50-persent steun kry. Hy sê Ramaphosa sal ʼn pragmatiese, sentralistiese ooreenkoms moet aanvaar of met meer radikale bedmaats probeer saamwerk. Dit sluit die EFF in, wat geen geheim maak dat hulle hom wegwens nie.
# ActionSA sê Suid-Afrika se beleggingsomgewing en sake-ondernemings ly steeds onder die ANC se ekonomiese beleid, korrupsie en growwe regerings-onbevoegdheid. Ou Mutual se voorsitter en gewese minister van Finansies, Trevor Manuel, sê beleggers het die afgelope paar jaar meer as ‘n duisend-miljard-rand uit Suid-Afrika geneem. Pieter Scribante van ActionSA sê dit is gebiedend noodsaaklik om buitelandse beleggings na die land terug te bring, die ekonomie ‘n hupstoot te gee en werkskepping op dreef te kry:
# Die onderhandelings tussen die Witwatersrandse Taxivereniging en die Nancefield Dube-Wes-taxivereniging in Soweto het opnuut ‘n dooiepunt bereik. Geskille tussen die twee verenigings oor roetes duur reeds vier jaar. Gauteng se LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê ondanks pogings deur haar departement weier die twee verenigings om saam te werk:
# Iran sê daar was nog geen missiel-aanval op die land nie. Dit volg op berigte dat Israel vanoggend ‘n beperkte militêre aanval op Iran se sentrale Isfahan-provinsie uitgevoer het. Terreine wat verband hou met Iran se kernwapenprogram is hier geleë. Die woordvoerder van Iran se kuberruimte-sentrum, Hossein Dalirian, sê Israel het slegs ‘n mislukte en vernederende aanvalspoging met ‘n paar hommeltuie aangewend, wat suksesvol afgeskiet is. Hy sê die kernaanlegte is veilig.
# Motorsport: Formule Een is die eerste keer in vyf jaar terug in China met ‘n naweek wat môre se snelren insluit. Met slegs ‘n uur om hiervoor te oefen het verskeie renjaers kommer uitgespreek oor beperkte oefening op ‘n opgeknapte baan, wat volgens die huidige spesifikasie vir F1-motors, onbekend is. Oscar Piastri neem aan sy eerste wedren in Sjanghai deel en sê sy McLaren kan dalk sukkel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-757-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-391-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….