Nuus 09:00
BULLETIN 19 April 9 vmm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM-leier sê die uitsluiting van vyf politieke partye op die stembrief is ‘n terugslag
# Dit is 40 dae tot die langverwagte algemene verkiesing
# En president Ramaphosa is bekommerd oor die voortslepende konflik in Soedan
# Die UDM-leier, Bantu Holomisa, sê politieke partye moet maniere vind om nuwe partye se deelname aan die land se demokrasie te ondersteun en te fasiliteer. Dit volg nadat die Verkiesingshof in die Verkiesingskommissie se guns beslis het dat vyf partye nie volgende maand op die stembrief sal verskyn nie. Holomisa sê die beslissing is beslis ‘n groot terugslag vir hierdie partye en hulle ondersteuners:
# Vandag oor 40 dae, op die 29ste van volgende maand, vind Suid-Afrika se sewende demokratiese algemene verkiesing plaas. Een-en-dertig politieke partye sal vir die eerste keer aan die nasionale verkiesing deelneem. Volgens ʼn onlangse opname deur die African Innovation Research South Africa in Johannesburg, Kaapstad en Durban sal die EFF en die MK Party ʼn bedreiging in die verkiesing wees. Die opname toon 20-persent deelnemers sê hulle gaan vir die EFF stem, 18,4-persent die ANC, 17-persent vir die MK Party en 13,3-persent vir die DA.
# Die burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza, sê die jongste kredietgradering deur Global Credit Ratings is ‘n bewys van die standvastigheid en veerkragtigheid van die metro se finansiële bestuurstelsels. Die graderingsagentskap het die metro se nasionale langtermyngradering op BBB bevestig en die korttermyngradering op A3. Die stad se woordvoerder, Phakamile Mbengashe, sê Ekurhuleni slaag daarin om sy inkomste en besteding te balanseer en te verhoed dat sy finansiële posisie versleg:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is diep bekommerd oor die voortslepende konflik en humanitêre katastrofe in Soedan, en dit raak ook ander lande in die streek. Die president het sy werksbesoek aan Suid-Soedan gister afgesluit. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het namens Ramaphosa gesê blywende vrede, stabiliteit en ontwikkeling in Soedan sal afhang van die wyse waarop die kollektiewe leierskap die uitdagende tye vorentoe hanteer:
# Gholf: Die Amerikaner J.T. Poston het agt onder baansyfer 63 aangeteken om met twee houe voor sy landgenoot, Collin Morikawa, en Seamus Power van Ierland te eindig na die eerste ronde van die PGA Toer se RBC Heritage-toernooi. Die wêreld-nommereen en Meesterskampioen, Scottie Scheffler van Amerika, het ná ʼn onseker begin herstel en met twee onder 69 geëindig. Die wêreld-nommertwee, Rory McIlroy van Noord-Ierland, is vier houe agter Poston met vier onder 67 en ʼn arend op die vyfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-291-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-387-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….