Nuus 08:00
BULLETIN 19 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dit is 40 dae tot die langverwagte algemene verkiesing
# Die Helen Suzman-stigting verwerp die afhandeling van die witskrif oor die migrasiebeleid
# En Israel het volgens berigte ‘n aanval in Iran uitgevoer
# Vandag oor 40 dae, op die 29ste van volgende maand, vind Suid-Afrika se sewende demokratiese algemene verkiesing plaas. Een-en-dertig politieke partye sal vir die eerste keer aan die nasionale verkiesing deelneem. Volgens ‘n onlangse opname deur die African Innovation Research South Africa in Johannesburg, Kaapstad en Durban sal die EFF en die MK Party ʼn bedreiging in die verkiesing wees. Die opname toon 20-persent deelnemers sê hulle gaan vir die EFF stem, 18,4-persent die ANC, 17-persent vir die MK Party en 13,3-persent vir die DA.
# Die Helen Suzman-stigting sê hy is ontsteld oor die Kabinet se besluit om die witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming te aanvaar. Die witskrif oor die migrasiebeleid is vroeër die week in die Staatskoerant gepubliseer. Die stigting se waarnemende uitvoerende direkteur, Naseema Fakir, voer aan die witskrif verskaf ʼn verwarrende oplossing sonder om die probleme wat migrasie vir Suid-Afrika inhou, behoorlik te omskryf:
# KwaZulu-Natal se LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Bongi Sithole-Moloi, sê daar is ʼn dringende behoefte om die provinsie se gereedheid vir uiterste weerstoestande te verbeter. Vyf mense is onlangs tydens stortreën in Margate dood. Die LUR sê sedert 2019 is meer as 500 mense in die provinsie weens uiterste weerstoestande dood terwyl meer as 12-duisend huise verwoes is. Sithole-Moloi sê die Nasionale Rampbestuursentrum het ʼn toelaag van 253-miljoen-rand goedgekeur om 12 munisipaliteite te herstel en te herbou.
# Israel het volgens berigte ʼn aanval uitgevoer teen Iran. Volgens Iran se staatsbeheerde IRNA-nuusagentskap is talle ontploffings in die sentrale Isfahan-provinsie gehoor. Die provinsie is die tuiste van ʼn belangrike militêre lugmagbasis en talle Iranse kernpersele. Spanning loop hoog in die groter Midde-Ooste ná Iran se hommeltuig- en missielaanval op Israel. Iran se minister van Buitelandse Sake, Hossein Amir-Abdollahian, het gister gewaarsku sy land sal onmiddellik en op maksimum vlak reageer op enige vergeldingsaanval deur Israel.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, kom in die kwarteindronde van die Stuttgart Ope teen die Brit Emma Raducanu te staan. Swiatek het die Belg, Elise Mertens, met 6-3 en 6-4 geklop om die kwarteindronde die derde agtereenvolgende jaar te haal. Raducanu het die Tsjeggiese tiener, Linda Noskova, in 81 minute met 6-0 en 7-5 verslaan. Jasmine Paolini van Italië het Tunisië se sewende gekeurde Ons Jabeur in skoon stelle afgeransel. Raducanu, wat verlede seisoen deur beserings geteister is, sê sy is bly sy kan weer goed speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-815-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-391-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….