Nuus 11:00
BULLETIN 18 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Energie-ontleder sê die vraag na Eskom se krag is besig om af te neem
# Altesaam 17-duisend polisiebeamptes sal by hoërisiko-stemlokale in KwaZulu-Natal ontplooi word
# En die VN-hulpagentskap sê meer moet gedoen word om volhoubare vrede in Gaza te waarborg
# Die energie-ontleder Chris Yelland sê sake-ondernemings en huishoudings gebruik minder Eskom-krag, wat die voortgesette opskorting van beurtkrag verduidelik. Dis vandag die 22ste agtereenvolgende dag sonder beurtkrag, en die kragvoorsiener skryf dit toe aan voldoende opwekkingsvermoë. Yelland sê alternatiewe kragbronne soos sonpanele op dakke en kommersiële installerings vul die nasionale kragnetwerk se beskikbare elektrisiteit aan. Hy sê die stygende koste van elektrisiteit laat sakeondernemings ook na alternatiewe kragbronne soek.
# Die algemene bedrywe-vakbond, Giwusa, sê terwyl inflasie effens verstadig het, bly die prys van basiese items soos kos, klere en higiëne-produkte hoog. Die jongste Verbruikersprys-aanwyser toon ‘n oorhoofse styging van 5,3-persent in pryse tussen Maart verlede jaar en Maart vanjaar. Die vakbond sê dit is ‘n teken van ‘n verdiepende finansiële krisis. Koketso Phasha van Giwusa vra regeringsingryping teen die stygende koste en om verdere ekonomiese ongelykheid en moontlike maatskaplike opstand te keer:
# Meer as 17-duisend polisiebeamptes gaan teen ‘n koste van 40-miljoen-rand by hoërisiko-stemlokale in KwaZulu-Natal ontplooi word. Die provinsie sal in die komende algemene verkiesing die meeste stemlokale hê, naamlik vier-duisend-974 uit die meer as 23-duisend in die land. Sowat 170 stemlokale in KwaZulu-Natal word as hoërisiko-stempunte beskou. Meer as 150 politici is sedert 2011 in die provinsie vermoor. Die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê hulle sal seker maak die verkiesing is misdaadvry.
# Die Verenigde Nasies se Noodlenigingsagentskap vir Palestynse Vlugtelinge in die Nabye Ooste sê ‘n politieke proses alleen sal nie blywende vrede in Gaza waarborg nie. Altesaam 178 agentskapswerkers is dood sedert die oorlog tussen Israel en Hamas uitgebreek het. Meer as 160 van sy persele, hoofsaaklik skuilings, is beskadig of vernietig. Die agentskap se hoof, Philippe Lazzarini, het aan die VN-Veiligheidsraad gesê hulle word gekeer om voorraad na die gebied te neem en lewens te red:
# Krieket: Engeland se snelbouler, Jofra Archer, het erken hy sal sukkel om enige nuwe beserings te hanteer. Hy word deur ʼn magdom fiksheidsprobleme geteister sedert hy die internasionale kriekettoneel in 2019 betree het. Archer het in Mei verlede jaar laas mededingende krieket gespeel weens ʼn herhaalde stresfraktuur in sy regter-elmboog. Hy sê hy hoop om gereed te wees vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat in Junie in Amerika en sy geboorteland, die Karibiese Eilande, plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-27 sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-247-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-379-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….