Nuus 18:00
BULLETIN 17 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monetêre Fonds waarsku Suid-Afrika se werkloosheid sal erger word
# Die IVP-leier glo die Veelparty-handves is ‘n oplossing vir beter bestuur
# En, rugby: Steven Kitshoff se verblyf by Ulster kan dalk gouer as beplan eindig ná ‘n besering
# Die Internasionale Monetêre Fonds voorspel Suid-Afrika se werkloosheidskoers sal vererger. Volgens vooruitskattings sal dit vanjaar 33,5-persent bereik en volgende jaar 33,9-persent. Dit is ondanks regeringsbeloftes om werkskepping voorop te stel. News24 berig die werkloosheidsyfer is tans 32,1-persent, met 7,9-miljoen mense sonder werk. Die IMF waarsku oor ‘n al hoe groter kloof tussen lae-inkomste ontwikkelende lande en die res van die wêreld. Jaarlikse verbruikers-inflasie sal na verwagting dié jaar gemiddeld 4,9-persent wees met laer bruto binnelandse produkvooruitsigte in vergelyking met die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank.
# Die IVP se leier, Velenkosini Hlabisa, sê die Veelparty-handves is gereed om op ‘n meer doeltreffende wyse te regeer as die ANC. Hy verwag ‘n koalisieregering ná die verkiesing, en voorspel die regerende party se steun sal in volgende maand se verkiesing tot onder 50-persent daal. Hlabisa stem wel nie saam met die DA se kritiek op kleiner partye wat in die Wes-Kaap wil meeding nie, maar glo die handves is goed voorberei om te kan regeer:
# Die minister van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Nkosazana Dlamini-Zuma, vra wetstoepassingsagentskappe om op te tree in 15-duisend-343 ontvoeringsake in Suid-Afrika, soos aangeteken deur Statistieke Suid-Afrika. Vroue, kinders en die LGBTQ+ gemeenskap word meestal geteiken deur gewapende groepe wat hul met geweld gevange neem en vir finansiële of taktiese voordeel gebruik. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê ontvoering is die onwettige beslaglegging op of wegneem van ‘n ander persoon teen hul wil, ook bekend as misdadige ontvoering:
Build One South Africa eis intussen die openbare bekendmaking van die seksuele oortreders-register by alle skole om te verseker oortreders is nie onderwysers nie. BOSA se leier, Mmusi Maimane, het ‘n betoging voor die Noord-Kaapse Onderwysdepartement in Kimberley gelei om ouers te ondersteun wat aandring op optrede teen onderwysers en skoolhoofde wat van seksuele aanranding beskuldig word. Volgens die party word die epidemie van seksuele misbruik van kinders verder aangeblaas, omdat die departement se reaksie onvoldoende is. Die woordvoerder, Roger Solomons, dring aan op polisieklaring vir alle personeel.
# Rugby: Die Springbok-stut, Steven Kitshoff, se verblyf by Ulster kan dalk gouer eindig as wat beplan is nadat hy tydens verlede naweek se Kampioenebeker-kwarteindstryd teen Clermont beseer is. Die kniebesering sal hom vir ‘n geruime tyd op die kantlyn hou, wat beteken hy sal dalk nie weer voor die einde van die seisoen kan speel nie. Kitshoff sal dan na die Stormers terugkeer nadat hy vroeg vrygestel is van sy drie-jaar-kontrak met die Ierse span. Hy was die kaptein van die Kaapse span in agtereenvolgende eindstryde van die Verenigde Rugbykampioenskap.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-126-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-288-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….