Nuus 13:00
BULLETIN 17 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Voedselinflasie is op sy laagste punt in drie-en-‘n-half jaar
# Die DA sê meer as 200 dokters wag nog vir plasing vir gemeenskapsdiens
# En, krieket: ‘n Mylpaal vir Ayabonga Khaka in die beslissende eendagwedstryd teen Sri Lanka
# Statistieke SA sê inflasie is die laagste in drie-en-‘n-half jaar. Inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies het in Maart gedaal tot 5,1-persent, van 6,1-persent in Februarie. Dit is laer as die onlangse hoogtepunt van 14-persent in Maart verlede jaar, en die laagste jaarlikse styging sedert September 2020, toe die koers 3,8-persent was. Volgens data was eiers verlede maand 28-persent duurder as ‘n jaar gelede. Rys was amper 26-persent duurder en die prys van wit- en bruinsuiker, aartappels en kondensmelk het met meer as 20-persent gestyg.
# Die DA sê hy gaan die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, vra om te reageer op inligting wat hy ontvang het dat meer as 200 dokters wat hul internskappe suksesvol voltooi het, nog vir gemeenskapsdiens geplaas moet word. Die DA sê dit weerspreek Phaahla se stelling in Februarie dat alle gegradueerdes wat vir plasing in aanmerking gekom het, reeds geplaas is. Die DA-lid, Michele Clarke, sê volgens die Internskap- en Gemeenskapsdiensprogram is daar geen vakante poste nie:
# Rusland, maar nie president Vladimir Putin nie, sal na die Franse seremonie in Junie genooi word om 80 jaar sedert die Tweede Wêreldoorlog se D-dag in Normandië te vier. Putin het in Februarie 2022 soldate na Oekraïne gestuur en die Internasionale Strafhof het ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en beskuldig hom dat Oekraïense kinders onregmatig gedeporteer is. ‘n Magdom wêreldleiers word by die seremonie verwag, insluitend die Amerikaanse president, Joe Biden. Die organiseerders sê Rusland sal genooi word om die belangrikheid van die toewyding en opofferings van die Sowjet-volk te eerbiedig.
# Krieket: Die Protea Vroue maak hulle gereed on Sri Lanka vanmiddag in Potchefstroom te pak in hulle derde en laaste eendagwedstryd. Suid-Afrika loop 1-0 voor in die reeks na hulle oorwinning met sewe paaltjies in die tweede wedstryd nadat die eerste kragmeting uitgereën het. Die reeks is ook ‘n individuele mylpaal vir Ayabonga Khaka, wat haar 100ste eendag-internasionale wedstryd sal speel na sy haar buiging in 2012 gemaak het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-434-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-393-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-74-sent per vat.
# En, ‘n baanbrekende geskiedenisboek oor die Beatles, All You Need Is Love, is ʼn week na sy bekendstelling nommer twee op Amazon se musiekboeklys. Die hardebandboek van 352 bladsye is in vraag-en-antwoordformaat geskryf en orkeslede, vriende en familie vertel stories wat nie voorheen gepubliseer is nie. Al die onderhoude in die boek, geskryf deur Peter Brown en Steven Gaines, is tussen 1980 en ’81 gevoer. Intussen gaan Disney Plus op die agste van volgende maand die 1970-Beatles-fliek, Let It Be, op sy platform plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….