Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 April 2:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Springbok-ondersteuners sal baie vroeg moet opstaan om te kyk hoe hulle helde die Wallabies op 10 Augustus pak in ‘n Rugbykampioenskapstoets in Brisbane. Die wedstryd skop kwart-voor-sewe, Suid-Afrikaanse tyd, af. Die twee lande stamp ‘n week later weer koppe in Perth. Die wêreldkampioen speel die 31ste teen die All Blacks op Ellispark, en ‘n week later in Kaapstad. Die Bokke en Argentinië meet op 21 September kragte in Santiago, en op die 28ste in Mbombela.
# Krieket: Die Protea Vroue maak hulle gereed on Sri Lanka vanmiddag in Potchefstroom te pak in hulle derde en laaste eendagwedstryd. Suid-Afrika loop 1-0 voor in die reeks na hulle oorwinning met sewe paaltjies in die tweede wedstryd nadat die eerste kragmeting uitgereën het. Die reeks is ook ‘n individuele mylpaal vir Ayabonga Khaka, wat haar 100ste eendag-internasionale wedstryd sal speel na sy haar buiging in 2012 gemaak het:
# Boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het die Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak oor die Nasionale Beroepsboks-promotorsvereniging se saak verwelkom. Die hof het die vereniging se aansoek met koste van die hand gewys om die aanstelling van Boks SA se Rekeningkundige Owerheid as onregmatig en ongeldig te verklaar. Die minister se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê dis belangrik om bestendigheid en etiese bestuur by Boks SA te herstel:
# Tennis: Die twaalfmalige kampioen, Rafael Nadal, besef dit sal nie maklik wees om die vierde gekeurde Australiër Alex de Minaur vandag te klop in die ronde van 32 van die Barcelona Ope in sy geboorteland, Spanje, nie. Die 37-jarige het gister in die eerste ronde die Italianer Flavio Cobolli 6-2, 6-3 verslaan in sy tweede toernooi van die jaar en eerste sedert Januarie. Die 22-malige Grand Slam-kampioen gebruik die toernooi as voorbereiding vir die Franse Ope, wat hy reeds ‘n rekordgetal 14 keer gewen het:
# En, sokker: Paris St-Germain kom in die Kampioeneliga se halfeindronde teen Borussia Dortmund te staan. Kylian Mbappé het twee doele aangeteken en bygedra tot PSG se sege van 4-1 oor Barcelona in die tweede kwarteindronde-kragmeting, met ‘n saamgestelde oorwinning van 6-4. Dortmund het hulle eerste halfeindronde in elf jaar gehaal toe hulle Atletico Madrid in die tweede kragmeting 4-2 verslaan en met altesaam 5-4 geseëvier het. PSG se bestuurder, Luis Enrique, sê hy is gelukkig dat sy span die halfeindronde gehaal het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….