Nuus 12:00
BULLETIN 17 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie daal tot 5,3-persent
# Die George-munisipaliteit begin met opruimingswerk na verlede week se swaar reën
# En, gholf: Rory McIlroy verwerp berigte dat hy vir groot geld by LIV gaan aansluit
# Daar is vandag ‘n bietjie goeie nuus oor inflasie. Na twee maande se styging, het inflasie in Maart verlangsaam tot 5,3-persent, van 5,6-persent in Februarrie. Statistiek SA sê kategorieë met die hoogste jaarlikse prysveranderings in Maart was goedere en dienste, onderwys, gesondheid, en behuising en nutsdienste. Onderwysfooie word een keer ‘n jaar in Maart gemeet. Oorhoofs was onderwys 6,3-persent duurder in 2024 as in 2023. Dit is die hoogste sedert 2020, toe die koers 6,4-persent was. Voedsel-inflasie is die laagste in drie-en-‘n-half jaar.
# Die George-munisipaliteit in die Suid-Kaap se Departement Gemeenskapsdiens het met ‘n deeglike opruimingsoperasie begin in gebiede wat onder verlede week se swaar reën deurgeloop het. Die Wildernis, Kleinkrantz en die gebiede wes van die Touwrivier tot by Leentjiesklip is die ergste geraak. Die burgemeester, Leon van Wyk, sê sowat 50 vragte rommel is ingesamel, wat ‘n weerspieëling is van die nagevolge van die broodnodige reën wat damme in die gebied gevul het:
# ‘n Verslag toon die aantal anti-Semitiese voorvalle in die Verenigde State het verlede jaar ‘n rekordhoogtepunt bereik, wat vererger is deur die begin van die oorlog tussen Israel en Hamas op 7 Oktober. ‘n Joodse organisasie, Anti-Defamation League, het in 2023 altesaam agt-duisend-873 anti-Semitiese voorvalle in die land getel, wat ‘n toename van 140-persent sedert 2022 was. Meer as vyf-duisend gevalle is ná 7 Oktober aangemeld. Reuters berig die organisasie se uitvoerende hoof, Jonathan Goldblatt, sê Joodse Amerikaners word geteiken by die skool, by die werk, in die openbaar en selfs by die huis.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, het berigte verwerp dat hy op die punt staan om by LIV Gholf aan te sluit. Die Londense finansiële oggendblad, City AM, het die naweek berig die Noord-Ierse speler is 16,3-miljard-rand aangebied om by die Saoedi-Arabiese toernooireeks aan te sluit. McIlroy, wat een van LIV Gholf se mees uitgesproke kritici is sedert dit in 2022 bekend gestel is, sê hy sal vir die res van sy loopbaan aan die PGA-reeks deelneem:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-466-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-389-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het in samewerking met die Noord-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, die Twee Rivieren-voëlskuiling in die Kgalagadi-oorgrenspark onthul. SANParke se hoof van Kommunikasie, JP Louw, sê die uitkyksentrum wil besoeker-ervarings verbeter en is ‘n bewys van voortgesette toerisme-infrastruktuurbeleggings. Hy voeg by die nuwe voëlskuiling se toegangstruktuur is rolstoelvriendelik en stem ooreen met SANParke se toewyding tot toeganklikheid en gebruikersvriendelikheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….