Nuus 08:00
BULLETIN 17 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile doen ‘n beroep op tradisionele leiers om ’n vrye en regverdige verkiesing te bevorder
# Die Nasionale Tesourie is daartoe verbind om fiskale geloofwaardigheid te verbeter
# En sewe mense is tot dusver op die jurie gekies vir Trump se verhoor
# Adjunkpresident Paul Mashatile doen ‘n beroep op tradisionele leiers om geregistreerde kiesers aan te moedig om aan volgende maand se algemene verkiesing deel te neem en seker te maak dis vry en regverdig. Hy het gister in Pretoria ʼn toespraak gelewer tydens ʼn dialoog wat deur die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers aangebied is. Mashatile het ook erken bestendigheid, veral in beleid, is nodig om tradisionele leiers se kommer aan te spreek:
# Nasionale Tesourie sê die regering is verbind tot die bevordering van fiskale geloofwaardigheid en om seker te maak openbare finansies word deursigtig en met aanspreeklikheid bestuur. Die Internasionale Monetêre Fonds se verslag oor fiskale deursigtigheid plaas Suid-Afrika onder die top drie wat deursigtige fiskale praktyke betref. Die Tesourie sê hy neem kennis van die behoefte om in spesifieke areas soos in die verslag aanbeveel word, te verbeter. Dit sluit in fiskale verslagdoening, beter bekendmaking van belastinguitgawes, en verskerping van risiko-ontleding in die fiskale risiko-verklaring.
# ActionSA sê die speaker van die Stad Johannesburgse raad, Margaret Arnolds, se aanstelling van Pule Seleka as voorsitter van die Spesiale en Onafhanklike Ondersoekkomitee, het ten doel om korrupte amptenare te beskerm. Volgens die party beskou die ANC en EFF se “koalisie van ondergang” die Groep Forensiese en Ondersoekdienste as ‘n bedreiging. Hulle beskuldig die koalisie van onverdraagsaamheid teenoor die oppergesag van die reg en aanspreeklikheid. Nobuhle Mthembu van ActionSA doen ‘n beroep op Arnolds om hom van magsmisbruik te weerhou en die eenheid toe te laat om sy werk ongehinderd voort te sit:
# Sewe jurielede is tot dusver aangewys vir oudpresident Donald Trump se strafsaak oor swyggeld in New York. Die lede bestaan uit vier mans en drie vroue wat ʼn verkoopspersoon, verpleegkundige, twee prokureurs, ʼn IT-kenner, onderwyser en programmatuur-ingenieur insluit. ʼn Jurie van 12 persone en tot ses plaasvervangers moet uiteindelik aangewys word. Trump word aangekla dat hy sakerekords vervals het om voor die 2016-verkiesing swyggeld aan ‘n vrou te betaal.
# Sokker: Paris St-Germain kom in die Kampioeneliga se halfeindronde teen Borussia Dortmund te staan. Kylian Mbappe het twee doele geskop en bygedra tot PSG se vier-een sege in die tweede deel van die kwarteindronde, met ‘n saamgestelde oorwinning van ses-vier teen Barcelona. Dortmund het hulle eerste halfeindronde in elf jaar gehaal toe hulle Atletico Madrid in die tweede deel met vier-twee verslaan en in totaal met vyf-vier geseëvier het. PSG se bestuurder, Luis Enrique, sê hy is gelukkig dat sy span die halfeindronde gehaal het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-774-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-382-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….