Nuus 07:00
BULLETIN 17 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monetêre Fonds verlaag Suid-Afrika se groeivooruitsig vir 2024
# Tennis: Nadal terug op die wenpad in Barcelona ná ’n besering
# En Unisa ken ‘n eredoktorsgraad toe aan Esther Mahlangu
# Die Internasionale Monetêre Fonds het Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte vir die jaar tot 0,9-persent verlaag. Die fonds het gister sy Wêreld Ekonomiese Vooruitsig vir 2024 bekendgestel. Projeksies vir 2025 is ook met 0,1-persentasiepunte tot 1,2-persent verminder. Die IMF se ekonomiese raadslid, Pierre-Olivier Gourinchas, sê benewens lae groei, sal Suid-Afrika vanjaar ook gebuk gaan onder inflasie en hoë werkloosheid. Hy sê die voorspelling is dat die wêreldekonomie vanjaar en volgende jaar teen 3,2 persent sal bly groei.
# Die Vryheidsfront Plus het die regering se wanbestuur gekritiseer en skryf dit toe aan die wydverspreide besoedeling van waterbronne. Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, het in sy antwoord op ‘n parlementêre vraag onthul daar is gedurende 2022 en verlede jaar 277 nie-nakomingskennisgewings aan 61 waterdiensowerhede uitgereik nadat bloudruppel-oudits uitgevoer is. Michal Groenewald van die VF Plus sê dit is skokkend, maar in 2022 het 344 rioolsuiweringsaanlegte in 90 munisipaliteite kritieke probleme ondervind, met slegs 50-persent wat herstelplanne ingedien het:
# KwaZulu-Natal se LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake, Siboniso Duma, sê hulle het die nasionale regering genader om ‘n ramptoestand af te kondig. Dit volg nadat vyf mense dood is na swaar reën en ernstige oorstromings in Margate. Die LUR het gister die omvang van die skade vasgestel. Duma sê alhoewel water, elektrisiteit en ander noodsaaklike dienste herstel is, sal die afkondiging van ʼn ramptoestand die herstelproses bespoedig:
# Die FBI in Amerika het begin met ‘n strafregtelike ondersoek na die ineenstorting van die Francis Scott Key-brug in Baltimore. Die liggaam van nog ‘n vermiste slagoffer is intussen gevind. Ses konstruksiewerkers is dood toe die brug in die Patapsco-rivier ineengestort het nadat dit laat verlede maand getref is deur ‘n groot houerskip, die MV Dali. Twee van hulle kollegas het dit oorleef. Die FBI wil vasstel wat veroorsaak het dat die skip blykbaar krag verloor en van rigting verander het voor dit die staalbrug oor die hawe getref het.
# Tennis: Die 12-malige kampioen, Rafael Nadal, het sy terugkeer ná ʼn besering met ʼn oorwinning in die eerste ronde van die Barcelona Ope gevier. Die Spanjaard het die Italianer, Flavio Cobolli, met 6-2 en 6-3 geklop in sy tweede toernooi van die jaar ná sy eerste in Januarie. Die 22-malige Grand Slam-kampioen kom in die tweede ronde teen die vierde gekeurde Alex De Minaur van Australië te staan terwyl hy voorberei vir die Franse Ope. Nadal sê hy het dit geniet om weer te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-844-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-384-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Suid-Afrika het ʼn eredoktorsgraad van Filosofie in Wiskunde aan die bekende Ndebele-kunstenaar, Esther Mahlangu, toegeken. Sy is by ʼn gradeplegtigheid op die universiteit se Muckleneuk-kampus in Pretoria vereer. Mahlangu het geen akademiese kwalifikasies nie en is bekend vir haar groot, moderne skilderye wat haar Ndebele-erfenis uitbeeld. Unisa sê Mahlangu is ʼn merkwaardige voorbeeld van hoe kuns grense kan laat vervaag en mense van verskillende kulture kan verenig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….