Nuus 06:00
BULLETIN 17 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uMkhonto we Sizwe-handelsmerk behoort aan die ANC
# Staatsamptenare is bekommerd oor belastingverhogings om Nasionale Gesondheidsversekering te befonds
# En die VSA gaan in die komende dae nuwe sanksies teen Iran instel
# Die ANC het eienaarskap bekom van die uMkhonto we Sizwe-handelsmerk te midde van ‘n regsgeskil met die MK-party. Volgens News24 dui dokumente van die Maatskappye- en Intellektuele Eiendomskommissie aan die handelsmerk, wat vroeër besit is deur Legacy Projects, is nou ‘toegeken’ aan die ANC. Die direkteur van Legacy Projects, Rapitse Montsho, het die oordragproses uitgeklaar en die ANC se eienaarskap bevestig.
# Die Verkiesingskommissie het die MK-party se eis dat kommissaris Janet Love moet bedank, verwerp. Die party wil hê Love moet uittree oor haar opmerkings in Januarie dat oudpresident Jacob Zuma weens sy kriminele rekord, nie as ‘n kandidaat in die komende verkiesing kan staan nie. Die party het die kommissie beskuldig van vooroordeel teen Zuma. Die kommissie se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die MK-party se oproep vir Love om te bedank is ongegrond:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is diep bekommerd oor voorgestelde belastingverhogings om die Nasionale Gesondheidsversekering te befonds. Die vereniging sê dit gaan finansiële druk op Suid-Afrikaners plaas te midde van ekonomiese uitdagings omdat die befondsingsmodel nie volhoubaar is nie en ‘n oneweredige las op armes plaas. Hy waarsku belastingverhogings sal finansiële lyding vererger. Die vereniging moedig die regering aan om te kyk na alternatiewe befondsingsmetodes en werkskepping voorop te stel om belastingbetalers se las te verlig. Hy staan regverdige en volhoubare oplossings voor om die skema te finansier.
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng Matome Chiloane besoek vandag die Daveyton Skills School in Benoni. Dit volg na die tragiese verdrinking van twee leerders tydens ‘n kamp by die Rock Falls Adventure Ranch in Centurion. Die 13- en 18-jarige seuns was in ‘n mensgemaakte dam by ‘n privaat kampeerplek naby die Hennopsrivier. Die woordvoerder Steve Mabona sê die LUR sal die situasie ondersoek:
# Die Amerikaanse minister van Finansies, Janet Yellen sê hulle gaan binnekort nuwe sanksies teen Iran instel. Dit volg na Teheran se lugaanval op Israel die naweek. Iran sê die aanval was uit weerwraak vir die vermeende Israelse lugaanval op sy konsulaat in Sirië op 1 April. Yellen sê die aanval deur Iran en sy volgelinge beklemtoon die belangrikheid van die tesourie se werk om ekonomiese middels te gebruik om Iran se kwaadwillige optrede teë te werk:
# Rugby: Springbok-ondersteuners sal baie vroeg moet opstaan om te kyk hoe hulle helde die Wallabies op 10 Augustus pak in ‘n Rugbykampioenskapstoets in Brisbane. Die wedstryd skop kwart-voor-sewe, Suid-Afrikaanse tyd, af. Die twee lande stamp ‘n week later weer in Perth koppe. Die wêreldkampioene speel op die 31ste teen die All Blacks op Ellispark, en ‘n week later in Kaapstad. Die Bokke en Argentinië meet op 21 September kragte in Santiago, en op die 28ste in Mbombela.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-887-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-382-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….