Nuus 16:00
BULLETIN 16 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwebane se stryd om haar gratifikasiebetaling van 10-miljoen-rand te bekom word uitgestel
# Suid-Afrika vra Wêreldhandelsorganisasie-samesprekings oor die sitrus-handelregulasies
# En, rugby: Nog ‘n gewese All Black-afrigter vertrek na Toyota Verblitz in Japan
# Regter Colleen Collis van die Hooggeregshof in Pretoria het die voormalige openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane se gratifikasiesaak tot Donderdag uitgestel. Mkhwebane maak beswaar teen die besluit van die kantoor van die openbare beskermer om die uitbetaling van tien-miljoen-rand van haar te weerhou. Sy het verlede maand die saak aanhangig gemaak waarin sy betoog die betaling kom haar toe. Die regter het die uitstel toegestaan weens geskille oor die dringendheid van die saak en kommer oor die koste:
# Die Landdroshof in Soshanguve het borgtog van vyf-duisend-rand toegestaan aan die voormalige Sizokthola-aanbieder op Moja Love, Xolani Maphanga, en ‘n medebeskuldigde. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Lumka Mahanjana, sê hulle word aangekla van poging tot moord en betreding. Dit spruit uit ‘n voorval waarin hulle na bewering ‘n vrou aangerand het tydens ‘n soektog na dwelms by haar huis. Mahanjana sê die saak is tot 21 Mei uitgestel:
# Suid-Afrika het begin met samesprekings met die Europese Unie in die Wêreldhandelsorganisasie oor fitosanitêre handelsregulasies wat sitrusuitvoere raak. Veral die regulasies oor sitrus-swartvlek plaas ‘n aansienlike geldelike las op plaaslike sitrusboere. Ministers Thoko Didiza and Ebrahim Patel beklemtoon die belangrikheid van die sitrusbedryf vir werkskepping en ekonomiese groei. Die samesprekings is gemik op ‘n oplossing wat die toekoms van die bedryf sal beskerm.
# Die Britse parlement sal vandag sy eerste debat afskop oor premier Rishi Sunak se beplande wetgewing wat jongmense sal verhoed om ooit te rook. Dit volg ondanks baie teenstand in sy eie Konserwatiewe Party. Die wet sal die verkoop van tabakprodukte aan enigiemand wat ná 1 Januarie 2009 gebore is, verbied, wat die rook-ouderdom elke jaar met ‘n jaar verhoog totdat dit op die hele bevolking van toepassing is. Die regering sê dit het die potensiaal om jongmense wat rook, so vroeg as 2040 amper heeltemal uit te faseer.
# Rugby: Die gewese All Black-hoofafrigter Ian Foster sê hy is vasberade om ‘n verskil te maak by Toyota Verblitz wanneer hy volgende seisoen by die Japannese span aansluit. Hy sal met sy voorganger, Steve Hansen, herenig wat nou Toyota Verblitz se direkteur van rugby is. Foster was van 2011 tot 2019 onder Hansen hulpafrigter van Nieu-Seeland. Hy het die Kiwi’s ná verlede jaar se Wêreldbekertoernooi verlaat toe hulle in die eindstryd teen Suid-Afrika verloor het. Dit is nie seker wat sy rol in Japan sal wees nie.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-969-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….