Nuus 11:00
BULLETIN 16 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê werkskepping is nie die regering se rol nie
# Israel oorweeg sy moontlike reaksie op Iran se aanval
# En rugby: Jordie Barrett gaan vir ’n beperkte tyd by Leinster aansluit
# Die ekonoom Dawie Roodt sê dis nie die regering se rol om werk te skep nie – sy rol is om ‘n omgewing te skep waar die privaat sektor behoorlik kan funksioneer. Suid-Afrika se jeug bly kwesbaar terwyl die werkloosheidsyfer in die vierde kwartaal van verlede jaar met 87-duisend tot 4,7-miljoen toegeneem het. Werkskepping is die algemene tema in verkiesingsmanifeste. Roodt sê ware werkskepping kan slegs plaasvind wanneer die privaat sektor in ʼn posisie is om aktief meer mense aan te stel terwyl die ekonomie groei:
# Die regering het in die lig van die naderende verkiesing ‘n dringende beroep op burgers gedoen om mekaar met respek te behandel en mekaar nie te skel en persoonlik aan te val nie. Die verkiesing vind op 29 Mei plaas. Die regering waarsku dat mense wat dreigboodskappe op sosiale media en digitale platforms stuur, geweld aanhits of skade aanrig, strafregtelik vervolg sal word ingevolge die Wet op Kubermisdaad. Hy sê ook die Verkiesingskommissie is gereed om ‘n vry en regverdige verkiesing aan te bied.
# Die EFF in Gauteng het die burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza, se nuwe burgemeesterskomitee verwelkom. Die komitee bestaan uit vyf EFF-lede, vier van die ANC en een van die African Independent Congress. Die EFF sê die herinsluiting van sy lede is noodsaaklik vir die behoud van bestendige plaaslike regering wat regstreeks die gehalte en doeltreffendheid van dienslewering raak. Die party sê die komiteelede is gereed om hul diepgewortelde begrip van die gemeenskap se behoeftes aan te wend om die lewe van die inwoners beduidend te verbeter.
# Die Israelse Weermag sê die land se oorlogskabinet het militêre planne oorweeg om op Iran se aanvalle te reageer. Iran het die naweek ʼn ongekende aanval op Israel uitgevoer uit weerwraak vir die aanval op sy konsulaat in Sirië waarin sewe Iranse offisiere dood is. Die IDF se leërstafhoof, Herzi Halevi, sê hulle het verskeie eensydige keuses wat hom toelaat om met krag te reageer sonder om spanning te verhoog:
# Rugby: Die Ierse span Leinster het ‘n korttermyn-kontrak met die Nieu-Seelandse agterspeler Jordie Barrett gesluit. Dit duur van Desember tot die einde van die volgende jaar se seisoen. Die 27-jarige speler het ‘n nuwe ooreenkoms met Nieu-Seeland Rugby gesluit tot 2028, met ‘n ruskans in 2025. Barrett, wat 57 toetse vir die All Blacks gespeel het, sê die stap bring ‘n groot uitdaging, maar ook ‘n groot geleentheid:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-262-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-737-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….