Nuus 08:00
BULLETIN 16 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof sal vandag Mkhwebane se aansoek oor haar gratifikasie van R10-miljoen aanhoor
# Die Departement van Basiese Onderwys sê dit is onvermydelik dat die Bela-wetsontwerp aanvaar sal word
# En 60 moontlike jurielede word verskoon oor partydigheid in Trump se swyggeld-verhoor
# Die Hooggeregshof in Pretoria hoor vandag die gewese Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se saak oor die niebetaling van haar gratifikasie van tien-miljoen-rand aan. Sy is in September verlede jaar afgedank nadat ‘n parlementêre ondersoek haar skuldig bevind het aan wangedrag en onbevoegdheid. Sy het dus haar reg op ʼn gratifikasiebetaling verbeur. Mkhwebane wil hê die hof moet die besluit van die Openbare Beskermer se kantoor om dit nie te betaal nie, ter syde stel en opdrag gee vir ʼn billike en regverdige oplossing in hierdie saak.
# Die Departement van Basiese Onderwys sê dis onafwendbaar dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette aanvaar sal word. Die wetsontwerp wysig dele van die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 weens administratiewe en beheerprobleme by skole en om die onderwysstelsel in geheel te verander. AfriForum het gister ʼn plakkaatbetoging teen die Bela-wet by die Uniegebou in Pretoria gehou. Die departement sê die wetsontwerp wil die speelveld gelyk maak sodat enige leerder na enige skool kan gaan.
# Die pasverkose Ekurhuleni-burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza van die ANC, het ʼn uitvoerende burgemeesterskomitee van tien lede aangestel. Die EFF behou sy vyf setels in die komitee terwyl die ANC vier het. Oudburgemeester Sivuyile Ngodwana van die African Independent Congress, is nou die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste. Die ANC en EFF is koalisievennote in die metro. Xhakaza sê die lede is gekies op grond van hulle ervaring, kennis en toewyding om ʼn diens aan inwoners te lewer:
# ʼn New Yorkse hof het 60 uit 96 moontlike jurielede weggewys wat verklaar het hulle kan nie regverdig en onpartydig wees in oudpresident Donald Trump se strafsaak oor swyggeld nie. Hy word beskuldig dat hy voor die 2016-verkiesing sy sakerekords vervals het om die gewese ster van volwasse flieks, Stormy Daniels, te betaal om stil te bly. Die hof het 12 onpartydige jurielede nodig vir die verhoor. Trump beskryf die saak as nonsens en ʼn aanval op Amerika:
# Krieket: Die Sunrisers Hyderabad het geskiedenis gemaak met hulle 25-lopie-oorwinning oor die Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga. Travis Head het die vinnigste honderdtal in IPL-geskiedenis behaal toe hy 102 bygedra het om die Sunrisers se telling in hulle 20 boulbeurte op 287 vir drie te staan te bring. Dis die hoogste telling in die toernooi se geskiedenis en verbeter die Sunrisers se 277 vir drie teen die Mumbai Indians verlede maand. RCB het daarna 262 vir sewe behaal met Pat Cummins wat drie paaltjies platgetrek het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-118-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-387-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….