Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf president Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se demokrasie is gesond. Hy het in sy weeklikse nuusbrief gesê die verkiesing word beskerm deur ‘n grondwetlike bestel wat gekenmerk word deur fundamentele vryhede en menseregte.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan die dood van die moordbeskuldigde Werner de Jager wat aangekla is van die moord op sy vrou, dominee Liezel de Jager van Amanzimtoti. Die Departement van Korrektiewe Dienste wou nie bevestig dat De Jager selfdood gepleeg het nie. Hy is in die King Edward-hospitaal in Durban dood.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule het die asbes-hofsaak teen hom as ‘n mors van tyd bestempel.
En berig daar is reeds geheime samesprekings aan die gang tussen die ANC, EFF en MK-party in KwaZulu-Natal.
# Sowetan:
Berig inwoners van Mpumalanga het ‘n pleidooi gelewer dat hulle gered word van die zama zamas aangesien hul bedrywighede ‘n negatiewe uitwerking op toerisme het en hul lewens in gevaar stel.
# En The Citizen:
Skryf RISE Mzansi is van mening die DA-leier John Steenhuisen se verwysing na kleiner partye as huursoldate strek hulle tot voordeel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Staan soos Beeld sy hele voorblad af aan die dood van Werner de Jager.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met De Jager se skielike dood.
En tweedens berig die koerant die Wes-Kaapse provinsiale komitee oor Onderwys het die Bela-wet in sy huidige vorm verwerp.
# En Cape Times:
Skryf begrotingsbesnoeiings gaan ‘n negatiewe uitwerking hê op grondeise.
En berig die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande sê hy moet bedank word vir die feit dat hy die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente laat groei het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig bykans honderd Oos-Kaapse gevangenes wat in die staat se psigiatriese instellings gehuisves moet word, word in tronke aangehou, met bewaarders wat na hulle omsien.
En tweedens skryf die koerant twee raadslede van Defenders of The People in die Nelson Mandelabaai-metro se salarisse is gestaak nadat hulle aan ‘n hofsaak onttrek het oor die verklaring van vakatures aan die Verkiesingskommissie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf vyf mense is dood in die hewige storm wat die Suidkus van KwaZulu-Natal getref het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig boere en lede van die Namibië Landbou-unie het na die Landdroshof in Windhoek opgeruk om te keer dat die veroordeelde wildstroper, Derick Brockerhoff borgtog toegestaan word.
Dan skryf die koerant TransNamib het die hof genader in ‘n poging om Intercape Namibia van hul perseel in Windhoek te verwyder. TransNamib eis sowat 1,6-miljoen-rand se agterstallige huur.
En laastens is daar nuus oor Tuarirovangu Kasirua wat haar gradeplegtigheid in tradisionele OvaHimba-drag bygewoon het.