Nuus 06:00
BULLETIN 16 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer president Ramaphosa se besluit om minister Nzimande te behou te midde van korrupsiebewerings
# Die Sentrale Energiefonds het voorspel dat petrol in Mei sal styg en diesel daal
# En Brittanje se eerste minister beskryf Iran se aanval op Israel as roekeloos en gevaarlik
# Die DA veroordeel president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, te behou te midde van korrupsie-bewerings. Hulle voer aan Nzimande se volgehoue teenwoordigheid maak die taak van die nuwe administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Freeman Nomvalo, nog moeiliker. Die party is bekommerd oor Nomvalo se aanstelling en glo hy moet verskeie uitstaande kwessies aanspreek om die skema se geloofwaardigheid te herstel. Die DA-lid, Chantel King, doen ‘n beroep op Ramaphosa om teen korrupsie op te tree:
# Die Sentrale Energiefonds se middel-maand-data voorspel petrolpryse sal in Mei vir die vierde agtereenvolgende maand styg, met ‘n verwagte onderverhaling van sowat 30-sent per liter. Dieselpryse sal egter na verwagting daal, met ‘n oorverhaling van ongeveer 28-sent per liter. Die verwagte verhoging sal ‘n styging van 30-sent per liter in 93 oktaan petrol beteken en 95 oktaan met 31-sent per liter. Intussen sal diesel se groothandelprys na verwagting ‘n afname van 26-tot 31-sent per liter toon. Lampolie kan met 19-sent per liter verminder. Die onderneming sê oliepryse is die grootste oorsaak van die onderverhaling in petrol.
# ’n Ondersoek is aan die gang nadat twee leerders van die Daveyton Skills School in die Hennopsrivier naby Centurion verdrink het. Hulle het gister tydens ‘n skooluitstappie verdrink. Die woordvoerder van Tshwane Nooddienste, Thabo Charles Mabaso, sê met hul aankoms op die toneel was die twee seuns tussen 13- en 16-jaar oud reeds dood:
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal sal vandag voortgaan met die vasstelling van die skade ná swaar reën en oorstromings in dele van die provinsie. Vyf mense is in Margate aan die Suidkus dood. In sommige gebiede het meer as 200 millimeter reën geval. Sakeondernemings, wonings en openbare infrastruktuur, insluitend paaie, is erg beskadig. Die departement sê die koste van die skade moet gekonsolideer word.
# Die Britse premier, Rishi Sunak, sê Iran het probeer om die Midde-Ooste in ‘n krisis te dompel met sy aanval op Israel. Hy sê dit was roekeloos en gevaarlik. Teheran het meer as 300 missiele na Israel gelanseer, in wat volgens hulle vergelding was vir ‘n aanval op die land se konsulaat in Sirië. Sewe mense het in die voorval omgekom. Sunak het aan die Britse Laerhuis gesê met hierdie aanval het Iran weer sy ware kleure gewys:
# Padwedlope: Die organiseerders van Sondag se Beijing-halfmarathon ondersoek bewerings dat drie ander atlete met opset ‘n plaaslike gunsteling toegelaat het om te wen. He Jie is as wenner aangewys, maar ‘n video op sosiale media wys hoe Robert Keter and Willy Mnangat van Kenia en Dejen Hailu van Ethiopia net voor eindstreep stadiger hardloop en hom toelaat om hulle verby te steek. Wêreldatletiek sê in ‘n verklaring aan BBC Sports hulle is bewus van die situasie, maar sal nie reageer voor die ondersoek nie afgehandel is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-867-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-380-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….