Nuus 16:00
BULLETIN 15 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Stortreën eis lewens in Durban en omstreke
# Die EFF vra grondwetlike vergoeding oor die gedwonge uitsetting van sy lede tydens ‘n staatsrede
# En, rugby: Die Haaie is tevrede om as gasheer op te tree vir Clermont in Londen
# Stortreën in KwaZulu-Natal het talle lewens in Durban en omstreke geëis. Dit sluit in ‘n ouma en haar kleinseun in Verulam. Drie mense is dood nadat hulle voertuig gister in Margate teen ‘n skuinste af meegesleur is. Daar was ook twee sterftes in Folweni en een in Umlazi weens mure en strukture wat omgeval het. Die Departement van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Siboniso Mngadi, sê rampbestuurspanne is op bystand:
# Die EFF sê sy parlementslede, wat uitgeskop is tydens oudpresident Jacob Zuma se staatsrede, moet grondwetlike vergoeding kry. Die Parlement hou vol ontwrigting het die verwyderings regverdig. Die EFF het destyds geëis Zuma moet die geld terugbetaal wat gebruik is vir die opknapping van sy huis in Nkandla, KwaZulu-Natal. News24 berig die voormalige EFF LP Godrich Gardee beskuldig die parlementêre owerhede van die oormatige gebruik van geweld om kritiek op Zuma te smoor. Gardee beweer die betoging was om Zuma aanspreeklik te hou vir die verbreking van die openbare beskermer se opdragte.
Die DA sê die vrylating van meer as 16-duisend gevangenes om Zuma na bewering te bevry, het gelei tot ‘n toename in misdaad. Hulle beweer 97 van die oortreders wat vrygelaat is, het binne twee maande weer die wet oortree, met 433 heroortreders sedert Februarie. Die gevangenes is skuldig bevind aan verskeie ernstige misdade. Die party het skok uitgespreek oor die verkeerdelike vrylating van oortreders wat aan seksuele misdrywe skuldig bevind is. Die DA-lid, Janho Engelbrecht, vra president Cyril Ramaphosa om verskoning te vra en aanspreeklikheid te verseker.
# Nigeriese ondersoekers het meer as 500-miljoen-rand teruggekry in ‘n korrupsie-ondersoek waarby ‘n geskorste minister en ander amptenare betrokke was. President Bola Ahmed Tinubu het die minister van Humanitêre Sake en Armoedeverligting, Betta Edu, in Januarie geskors ná bewerings oor openbare fondse wat na privaat bankrekenings herlei is. Tinubu het ook die hoof van die ministerie se Maatskaplike Beleggingsfondsagentskap, Halima Shehu, geskors oor beweerde korrupsie vir persoonlike gewin. Sy is aangekeer en op borg vrygelaat. Die voormalige minister van Armoede, Sadiya Umar-Farouq, is glo ook vir ondervraging ingeneem.
# Rugby: Die Haaie sal na Londen moet reis om as gasheer vir Clermont op te tree in hul halfeindstryd in die Uitdaagbeker, terwyl Gloucester gasheer is vir die Italiaanse span Benetton. Albei kragmetings vind die eerste naweek in Mei plaas. Suid-Afrikaanse spanne kon slegs tot met die kwarteindronde tuiswedstryde aanbied, wat die rede is waarom die Haaie hul halfeindstryd op ‘n neutrale veld sal speel. Die afrigter, John Plumtree, is net bly hulle is onder die laaste vier:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-140-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….