Nuus 09:00
BULLETIN 14 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die MK-party het die ANC se ruimte binnegedring
# Russiese troepe kom in Niger aan as deel van ‘n militêre ooreenkoms
# En, krieket: Suid-Afrika se vroue klop Sri Lanka met sewe paaltjies
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die MK-party het die ANC se ruimte binnegedring deur van die beweging te probeer steel. Mbalula het by die party se verkiesingsveldtog in Ficksburg in die Vrystaat gepraat. Hy sê hulle gaan voort om vir die naam uMkhonto weSizwe te veg. Mbalula voeg by hulle verdedig slegs die ANC teen pogings tot diefstal en is nie van plan om tyd op ander politieke party te mors nie:
Die EFF-leier, Julius Malema, sê intussen die party wil alle Afrikane beskerm en wil vrede en stabiliteit in die land hê. Hy het ‘n party-handves-vergadering in Lenasia, Johannesburg, toegespreek. Malema sê die EFF is in ‘n aggressiewe fase om met all Suid-Afrikaners in alle uithoeke van die land te praat en hulle sal nie enige steen onaangeroer laat nie:
# Tientalle Russiese instrukteurs het in Niger aangekom as deel van ‘n nuwe ooreenkoms met die land se junta, wat sy bande met die Weste verbreek het. Staatsmedia berig hulle het ‘n hiper-moderne lugverdedigingstelsel saamgebring. Die instrukteurs gaan die stelsel installeer en die Niger-weermag leer hoe om dit te gebruik. Dié Wes-Afrika land is een van verskeie in die Sahel-streek onder militêre beheer, wat onlangs bande met Rusland versterk het.
# Krieket: Die kaptein van die Protea-vrouespan, Laura Wolvaardt het 110 in Kimberley gemoker om Suid-Afrika ‘n sewe-paaltjie-oorwinning in die tweede een-dag-internasionale wedstryd teen Sri Lanka te besorg. Wolvaardt het nóg ‘n honderdtal-vennootskap gedeel met Marizanne Kapp, wat met ‘n onoorwonne 80 spog. Die Proteas het die wenlopies geslaan met 14 balle vir ‘n beurt van 233 vir drie. Sri Lanka is vroeër vir 229 uitgehaal. Die derde en laaste wedstryd vind Woensdag in Potchefstroom plaas nadat die weer die eerste een in Oos-Londen in die wiele gery het.
# En om op ‘n energieke noot af te sluit: Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, sê die provinsiale regering is op die voorpunt van hernieubare energie-ontwikkeling in Suid-Afrika, met meer as 36-miljard-rand wat in windplase belê is wat tans krag opwek. Mabuyane het met Duitsland se spesiale afgevaardigde in Suid-Afrika vir die Billike-energie-oordragvennootskap, Rainer Baake, vergader, wie se taak dit is om wêreldwyd ‘n veldtog vir volhoubare en gunstige energieopwekking te voer. Die premier sê die regering het hom verbind tot ‘n betekenisvolle rol in die sektor:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….