Nuus 08:00
BULLETIN14 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrikaners moet die onafhanklikheid van die OVK verdedig
# Iranse gewapende magte lê beslag op ‘n houerskip wat bande met Israel het
# En, rugby: ‘n Nederlaag vir die Bulle terwyl die Haaie ‘n oorwinning vier
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners moet die onafhanklikheid van die Verkiesingskommissie, asook die howe, beskerm en verdedig. Ramaphosa het by die ANC se verkiesingsveldtog in Cosmo City, Johannesburg, gepraat. Die kommisise wil die Verkiesingshof se beslissing laat omkeer wat toelaat dat voormalige president Jacob Zuma ‘n setel in die Parlement kan bestry. Die president sê hy is trots op die OVK se werk en glo nie die kommissie oortree in die politieke arena nie:
Die DA in KwaZulu-Natal sê intussen daar is ‘n doelgerigte poging deur kriminele elemente in die provinsie om water as ‘n wapen te gebruik vir hulle eie onwettige wins. In eThekwini het die totale ineenstorting van die regering die weg gebaan vir misdaadsindikate om desperate inwoners uit te buit. Die provinsiale premierskandidaat van die DA, Chris Pappas, sê die mislukking van die polisie is grootliks te blameer vir die vlaag misdadigheid wat die provinsie in sy greep het:
# Iranse gewapende magte het op ‘n houerskip naby die See van Hormuz beslag gelê te midde van stygende spanning na Israel se dodelike aanval op die Iranse konsulaat in Sirië. Aljazeera berig die skip is deur die Islamitiese Rewolusionêre Wag oorgeneem. Sewe van hulle lede is in die aanval in Sirië gedood. Die MSC Aries word met die Israeliese miljardêr Eyal Ofer verbind. Die skip het uit die Verenigde Arabiese Emirate vertrek op pad na Indië. Daar is 25 bemanningslede aan boord. MSC sê hy werk om hulle welstand te verseker.
# Rugby: Die Bulle is gisteraand in Engeland deeglik met 59-22 deur Northampton Saints in die kwarteindronde van die Kampioene-beker afgeransel. Die tuisspan het nege drieë ingeryg en kom nou teen Leinster te staan. In die Uitdaagbeker-kompetisie het die losskakel Siya Masuku 18 punte met sy skopskoen aangeteken toe die Haaie teruggeveg om Edinburgh in Durban ore aan te sit en vir die eerste keer die halfeindronde te haal. Die Haaie het drie drieë in hulle oorwinning van 36-30 behaal en meet nou in die halfeindstryd met Clermont Auvergne kragte.
# En laastens: ‘n Seekoei koei is terug in Kaapstad se Rondevlei-natuurreservaat na ‘n vroeë-oggend uitstappie gister in Grassy Park. ‘n Minibus-taxi-bestuurder, Arnold Brown, kon nie sy oë glo toe hy op die dier in die buurt afgekom het nie en het alarm gemaak. ‘n Woordvoerder van die Kaap die Goeie Hoop DBV, Belinda Abraham, het aan News24 gesê die seekoei het deur ‘n grensdraad ontsnap wat nou tydelik herstel is. Dit het slegs ‘n paar uur geneem om die seekoei terug na haar tuiste te begelei, sonder enige weerstand of drama.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….