Nuus 17:00
BULLETIN 12 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Noorweegse diplomaat bestempel SA as ‘n deurslaggewende faktor vir wêreldvrede
# Stokvel-spaargeld styg tot 9,6-miljard-rand ondanks ‘n moeilike ekonomiese klimaat
# En padwedlope: Gerda Steyn jaag môre haar vyfde agtereenvolgende Twee Oseane-titel
# Die Noorweegse diplomaat Mona Juul, wat tans in Suid-Afrika is, beskou die land as deurslaggewend vir wêreldvrede. Sy erken Suid-Afrika se potensiaal om te bemiddel in konflikte soos dié tussen Rusland en Oekraïne, en Palestina en Israel. Juul kritiseer die verlamming van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, en sê dit is hoekom die konflikte in Oekraïne en Gaza voortduur. Sy beklemtoon Suid-Afrika se rol om diplomatieke gapings te oorbrug en internasionale vrede te koester:
# ‘n Beampte van Korrektiewe Dienste en nog 10 verdagtes wat na bewering betrokke is by onwettige mynbedrywighede, sou vandag in die Landdroshof in Barberton, Mpumalanga, verskyn. Hulle is gister in hegtenis geneem nadat ‘n plaaseienaar betreding en onwettige mynwerk op sy eiendom aangemeld het. Die polisie het op ‘n voertuig beslag gelê en die beampte en nog drie mense aangekeer. Sewe burgers van Zimbabwe is op heterdaad betrap waar hulle op die plaas gegrawe het. Polisiewoordvoerder Donald Mdhluli sê Binnelandse Sake sal help om hulle immigrasiestatus te bepaal.
# Stokvelspaargeld toon ‘n oplewing tot ‘n indrukwekkende 9,6-miljard-rand, wat die veerkragtigheid van lede bewys in ‘n moeilike ekonomiese klimaat. Die toename van 15-persent in netto deposito’s weerspieël toewyding aan ‘n spaarkultuur in Suid-Afrika. FNB se uitvoerende hoof vir kleinhandel- en kontantbeleggings, Himal Parbhoo, skryf die groei toe aan lede se finansiële dissipline. Die bank merk die veranderende aard van stokvelle en moedig lede aan om ‘n reeks beleggingsmoontlikhede te oorweeg vir volgehoue groei en finansiële sekerheid.
# Padwedlope: Gerda Steyn jaag môre haar vyfde agtereenvolgende Twee Oseane-titel. Sy sluit aan by nagenoeg elf-duisend atlete in die ultra-marathon oor 56 kilometers in die Kaapse Skiereiland. Nog 16-duisend mense pak Sondag die half-marathon oor 21 kilometer. Steyn het verlede jaar die rekord opgestel van drie-uur-29-minute-6-sekondes. Sy gebruik die wedloop as voorbereiding vir die Olimpiese Spele later vanjaar in Parys, nadat sy onlangs rekords opgestel het in die Vaal-marathon en die Om-die-Dam-wedloop oor 50 kilometer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-429-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-396-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-23-sent per vat.
# En, laastens: SANParke het die heropening aangekondig van die Ebb and Flow-ruskamp in die Wildernisdeel van die Tuinroete nasionale park in die Wes-Kaap. Die tydelike sluiting was weens oorstromings. Die verblyf is nie geraak nie en besprekings kan gedoen word op SANParke se webblad. Woordvoerder JP Louw sê hoewel die Tsitsikamma- en Knysna-dele van die park oop is, bly talle staproetes en bedrywighede in die Wildernisdeel gesluit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….