Nuus 12:00
BULLETIN 12 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK nader die Konstitusionele Hof om te appelleer teen die beslissing oor Zuma se kandidaatskap
# Die Lughawensmaatskappy spook om ‘n brandstofkrisis af te weer
# En, motorsport: Verstappen Senior maak sy buiging in die Britse tydrenkampioenskap
# Die Verkiesingskommissie het bevestig hy het die Konstitusionele Hof genader om te appelleer teen die Verkiesingshof se beslissing oor oudpresident Jacob Zuma se deelname aan die komende verkiesing. Die hof het beslis Zuma mag op 29 Mei as ‘n kandidaat van die MK Party deelneem. Die OVK het aangevoer Zuma kwalifiseer nie omdat hy tot 15 maande tronkstraf gevonnis is vir minagting van die hof. Die kommissie sê indien die saak nie voor die verkiesing afgehandel word nie, bestaan die gevaar dat ʼn persoon wat nie kwalifiseer nie, toegelaat word om deel te neem.
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê hy doen stappe om ‘n dreigende tekort aan stralerbrandstof af te weer. ‘n Beplande sluiting van die Natref-raffinadery en ‘n geskil tussen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en brandstofmaatskappye kan tot ontwrigtings in brandstoflewering lei. Die sluiting van die raffinadery, wat die grootse verskaffer van stralerbrandsof aan die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng is, sal beteken dat hulle op ingevoerde brandstof uit Durban moet staatmaak. ACSA sê hy tref voorbereidings vir ‘n moontlike brandstofkrisis.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, het die aankoms van die Queen Mary 2 en die Queen Victoria verwelkom wat tans albei by die passasierseindpunt in die Kaapstadse hawe vasgemeer is. Daar sal na verwagting sowat 90-duisend passasiers in die Moederstad aankom in die 2023/24-bootvaartseisoen. Wenger sê dis goeie nuus omdat meer toeriste meer werksgeleenthede beteken. Sy sê drie-duisend permanente werksgeleenthede is reeds hierdie seisoen geskep:
# Motorsport: Die oud-Formule Een-renjaer Jos Verstappen maak die naweek sy buiging in die Britse Tydrenkampioenskap wanneer hy deelneem aan die Severn Valley-skofte in Wallis. Die pa van die huidige F1-kampioen Max Verstappen het in 2003 uit F1 getree en in 2022 aan tydrenne begin deelneem. Dit is die eerste keer dat die Nederlander met sy Skoda Fabia RS Rally2 op grondpaaie jaag. Die Belg Renaud Jamoul is sy mede-bestuurder. Die seremoniële plegtigheid vind vandag plaas en die wedren môre.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-757-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-399-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, gaan vandag een van Suid-Afrika se voorste jazz -ikone, Abdullah Ibrahim, in Kaapstad vereer. Die geleentheid is deel van die departement se reeks Van Toeka Af waardeur hy erkenning gee aan lewende legendes in die kreatiewe en kulturele bedrywe. Die departement se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê mense wat vroeër vereer is, sluit in die akteur, regisseur en dramaturg John Kani en die beeldhouer en digter Pitika Ntuli:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….