Nuus 11:00
BULLETIN 12 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK nader die Konstitusionele Hof oor die Verkiesingshof se uitspraak oor Zuma
# Amerikaanse senatore laat vaar planne om Suid-Afrika se kwalifisering vir AGOA te hersien
# En, motorsport: Fernando Alonso verleng sy kontrak met Aston Martin
# Die Verkiesingskommissie het bevestig hy het die Konstitusionele Hof genader om te appelleer teen die Verkiesingshof se beslissing oor oudpresident Jacob Zuma se deelname aan die komende verkiesing. Die hof het beslis Zuma mag op 29 Mei as ʼn kandidaat van die MK Party deelneem. Die OVK het aangevoer Zuma kwalifiseer nie omdat hy tot 15 maande tronkstraf gevonnis is vir minagting van die hof. Die kommissie sê indien die saak nie voor die verkiesing afgehandel word nie, bestaan die gevaar dat ʼn persoon wat nie kwalifiseer nie, toegelaat word om deel te neem.
# Amerikaanse senatore het planne laat vaar om Suid-Afrika se deelname aan die Program vir Groei en Geleenthede in Afrika te hersien. Dit is beplan weens kommer oor Suid-Afrika se buitelandse beleid, soos sy standpunt oor die oorlog tussen Israel en Hamas in. Die senatore beskou dit egter as onnodig om een land uit te sonder omdat die wetsontwerp voorsiening maak vir tussentydse hersiening. Die wetsontwerp beoog om Amerika se handelsooreenkoms met state in Afrika suid van die Sahara te hernu.
# ActionSA in Gauteng is geskok dat meer as 300 werkers van die Nasi iSpani-program volgens berigte nog nie betaal is sedert hulle in Februarie begin werk het nie. Nasi iSpani is ‘n massa-indiensnemingsprogram vir die jeug wat premier Panyaza Lesufi ingestel het. Die provinsiale regering het bewerings verwerp dat die skema se fondse op is en werkers nie betaal word nie. ActionSA se Gautengse premierskandidaat, Funzi Ngobeni, sê hierdie program is ʼn ANC-verkiesingsfoefie:
# Limpopo se Departement van Gesondheid sê die repatriasieproses van slagoffers van die onlangse busramp begin vandag. Die bus met Paas-pelgrims op pad na Moria het op die 28ste van verlede maand in die Mmamatlakala-pas van ʼn brug afgestort. Vyf-en-veertig burgers van Botswana is dood en net ʼn agtjarige meisie het oorleef. Die departement se woordvoerder, Neil Shikwambana, sê nog ses liggame is positief uitgeken, buiten die agt wat vroeër die maand geïdentifiseer is:
# Motorsport: Die dubbele wêreldkampioen, Fernando Alonso, het ‘n kontrak geteken om tot minstens die einde van 2026 se Formule Een-seisoen by Aston Martin te bly. Die 42-jarige Alonso het verlede jaar vanaf die Alpine-span aangesluit en in ses van die agt wedrenne onder die eerste drie geëindig. Die spanhoof, Mike Krack, sê die Spanjaard is uitgehonger vir sukses en wil die span in ‘n mededingende krag omskep. Aston Martin is vyfde op die vervaardigers-punteleer ná die eerste vier wedrenne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 29-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-973-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-394-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….