Nuus 08:00
BULLETIN 12 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra minister Nzimande moet bedank oor die krisis by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente
# Die Stad Tshwane se gradering skuif van negatief na stabiel
# En Gholf: DeChambeau loop voor ná die openingsronde van die Meesters
# Die DA sê hy is geskok oor die gemors by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Dit volg nadat die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, die skema se raad ontbind en dit onder administrasie geplaas het. Die raad se voorsitter, Ernest Khosa, het ook bedank. ‘n DA-woordvoerder, Chantel King, sê hulle vra die minister om te bedank oor die krisis by die skema:
Die EFF-studentebevel sê intussen hy is nie geskok omdat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se raad ontbind is nie. Blade Nzimande en Ernest Khosa word beskuldig dat hulle miljoene rand se gunslone ontvang het van diensverskaffers met kontrakte by die skema. Die EFF se Studentebevel sê hy is bekommerd, want die skema gebruik steeds korrupte en onbevoegde derdeparty-diensverskaffers om studentetoelaes te versprei. Hy sê die studente is die slagoffers:
# Die Stad Tshwane verwelkom die verbeterde vooruitsig van Moody’s-graderingagentskap van negatief na bestendig. Die stad was verlede maand onder hersiening vir ‘n moontlike afgradering. Die ontwikkeling sal die munisipaliteit in staat stel om sy finansies te stabiliseer en kapitaalbesteding vir infrastruktuurprojekte te bekom. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies Jacqui Uys sê die stad se pogings om belasting-administrasie te herbou het bygedra tot die positiewe skuif, wat dui op vordering met sy omkeerplanne:
# Die Verenigde Nasies se feitesending oor Soedan het ‘n ondersoek begin oor berigte van herhaalde aanvalle op burgerlikes en infrastruktuur soos hospitale en skole. Dit volg terwyl duisende burgerlikes sedert April verlede jaar dood is in gevegte tussen Soedan se gewapende magte en die paramilitêre Rapid Support Forces. Meer as ses-miljoen mense in die land is ontwortel en nagenoeg 25 miljoen benodig humanitêre hulp. Die VN versoek die strydende groepe vir ‘n onmiddellike skietstaking en ongehinderde toegang tot humanitêre hulp.
# Gholf: Die Amerikaner Bryson DeChambeau is een hou voor sy landgenoot Scottie Scheffler na die Meesters se openingsronde by die Augusta National in Georgia. Hy het op sewe-onder 65 klaargemaak nadat spel die eerste dag weens ʼn storm vroeër gestaak is. Die verdedigende kampioen van Spanje, Jon Rahm, het 73 behaal in sy poging om die eerste speler sedert Tiger Woods te word wat twee agtereenvolgende toernooie wen. Woods was een hou onder met vyf putjies wat oorbly toe spel weens swak lig opgeskort is. DeChambeau sê dit was uitdagende toestande:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-975-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-388-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….