Nuus 07:00
BULLETIN 12 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit is gekant teen die afleggings by Sibanye-Stillwater
# Die Parlement oorweeg die DA se versoek vir die verkiesing van ‘n nuwe speaker
# En die FBI vrees ‘n aanval in die VSA soortgelyk aan die in Moskou
# Solidariteit veroordeel die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater se aankondiging van sy derde afleggingsproses in ‘n jaar. Dit raak meer as drie-duisend werknemers en meer as 900 kontrakteurs. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie word betrek by die proses, maar die vakbond vra uitstel tot na salaris-onderhandelings. Hulle staan die afleggings teen om hulle lede te beskerm. Die algemene sekretaris van Solidariteit, Gideon du Plessis, kritiseer beide die tydsberekening en die maatskappy se bestuurders:
# Die Parlement het die DA se versoek dat ‘n nuwe speaker onmiddellik verkies word, na die Nasionale Vergadering gestuur vir oorweging. Dit volg ná die bedanking van Nosiviwe Mapisa-Nqakula wat 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery in die gesig staar. Sy word beskuldig dat sy gunsloon ontvang het vir ʼn kontrak terwyl sy minister van Verdediging was. Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, sê ʼn speaker moet dringend verkies word omdat die sesde Parlement tot 21 Mei sy werk moet doen.
# AfriForum belowe volle regshulp vir die eerste motoris wat hof toe moet gaan oor ou e-tolskuld in Gauteng. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga sê die regering moet nog besluit oor die agterstande van motoriste. Die veldtogbeampte van AfriForum, Charné Mostert, sê skuld verval na drie jaar en niemand kan daarna aanspreeklik gehou word nie. Mostert beskou die beëindiging van e-tol as ‘n belangrike oorwinning vir die burgerlike samelewing, maatskappye en motoriste:
# Kaapstad se stadsbestuurder, Lungelo Mbandazayo se veiligheidsmaatreëls is as voorsorgmaatreël verskerp. Dit volg nadat Glomix, ʼn konstruksiemaatskappy wat aan Nicole Johnson behoort, suksesvol op ʼn swartlys geplaas is. Johnson is die vermeende 28’s-bendebaas, Ralph Stanfield, se vrou. Die maatskappy is al meer as ʼn dekade betrokke by behuisingsprojekte in Kaapstad. Mbandazayo het talle maatskappye van Johnson ondersoek wat tot die plasing op die swartlys gelei het. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die beskerming volg ná dreigemente.
# Die FBI is bekommerd oor die moontlikheid van ‘n georganiseerde aanval in Amerika, soortgelyk aan die een verlede maand in Rusland. Minstens 144 mense is dood nadat militante ‘n konsert in Moskou aangeval het, met ‘n tak van Islamitiese Staat wat aanspreeklikheid aanvaar het. Die direkteur van die FBI Christopher Wray sê daar was nog selde in sy loopbaan ‘n tyd waarop daar gelyktydig so baie bedreigings teen Amerika se openbare veiligheid en nasionale sekerheid was. Hy vra die hernuwing van ‘n waarnemingsplan wat aan die einde van die maand verval.
# Tennis: Die wêreld-nommereen, Novak Djokovic, is die tweede Ope Era-speler wat tien kwarteindrondes by die Monte Carlo Meesters bereik. Die tweemalige Serwiese kampioen het die Italianer, Lorenzo Musetti, met 7-5 en 6-3 geklop. Italië se tweede gekeurde Jannik Sinner het die Duitser, Jan-Lennard Struff, met 6-4 en 6-2 verslaan. In die kwarteindronde takel hy die Deen, Holger Rune, wat die negende gekeurde Grigor Dimitrov van Belarus met 7-6, 3-6 en 7-6 geklop het. Die Griek, Stefanos Tsitsipas en Karen Khachanov van Rusland spog ook met oorwinnings. Djokovic sê hy het goed gespeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-479-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-392-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….