Nuus 17:00
BULLETIN 11 April 5nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n ANC-raadslid word verkies tot nuwe burgemeester van Ekurhuleni
# Minister Blade Nzimande gee aandag aan die vertraging met toelae-betalings aan studente
# En, ‘n Viëtnamese eiendomsmagnaat word ter dood veroordeel weens bankbedrog
# Die ANC-raadslid Nkosindiphile Xhakaza is verkies tot burgemeester van Ekurhuleni in Gauteng. Hy is onbestrede verkies. Die munisipaliteit het onlangs kopgestamp met die Ouditeur-generaal oor sy finansiële verslae. Die vorige burgemeester, Sivuyile Ngodwana, is met ‘n mosie van wantroue verwyder. Premier Payanza Lesufi sê aanhoudende politieke geskille in die metro het uitgeloop op talle vertragings voordat ‘n opvolger vir Ngodwana verkies is:
Ratings Afrika se onlangse verslag werp intussen lig op Suid-Afrikaanse munisipaliteite se finansiële stryd en skryf dit toe aan swak bestuur. Die verslag onderstreep die voortslepende kwessies oor finansiële volhoubaarheid, wat weer lei tot onvoldoende dienslewering vir ‘n aansienlike deel van die bevolking. Die organisasie se ontleder, Leon Claassen is bekommerd oor die moontlikheid dat sekere munisipaliteite wanfunksioneel kan word as die kwessies nie doeltreffend aandag kry nie:
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, is bekommerd oor die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se vertraging met die betaling van toelaes. Hy het die skema opdrag gegee om ‘n toegewyde taakspan, gesteun deur die departement, aan te stel om instellings te besoek wat ernstige probleme ondervind. Hy bevestig betalings vir universiteite en kolleges is gedoen volgens geldige rekords soos op 15 Maart. Nzimande doen stappe om voldoeningskwessies reg te stel en tydige betalings te verseker. Hy verseker ook studente van voortgesette steun.
# Die Viëtnamese eiendomsmagnaat Truong My Lan is ter dood veroordeel weens haar plundering van die Saigonse handelsbank oor elf jaar. Die voorsitter van Van Thinh Phat is skuldig bevind aan geldverduistering, afpersing en oortredings van die bankwet. Lan en haar medewerkers is daarvan aangekla dat hulle onwettig die bank beheer het om fondse te onttrek deur spookmaatskappye en afpersing. Haar inhegtenisneming het tot betogings gelei en meer as 42-duisend slagoffers van die skandaal is geïdentifiseer. Die saak is deel van Viëtnam se volgehoue veldtog teen korrupsie. Lan se regspan moet binne 15 dae appelleer.
# Tennis: Die koning van klei, Rafael Nadal, het begin voorberei vir volgende week se Barcelona-ope in sy tuisstad. Die Spanjaard sukkel met sy fiksheid na ‘n reeks beserings wat hom die grootste deel van die afgelope jaar van die baan gehou het. Die 37-jarige ster moes verlede week aan die Monte Carlo-ope onttrek, maar hoop om gereed te wees vir Barcelona. Die toernooi sal deel wees van sy voorbereiding vir die Franse Ope waar hy mik na sy 15de titel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-694-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….