Nuus 15:00
BULLETIN 11 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma se privaat vervolging van Ramaphosa word uitgestel tot 6 Augustus
# Altesaam twee-duisend-500 militêre veterane gaan by Gauteng se verkeersbeamptes aansluit
# En, die hittegolf oor Suidoos-Asië sal na verwagting tot volgende maand voortduur
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het oud-president Jacob Zuma se privaat vervolging van president Cyril Ramaphosa uitgestel tot 6 Augustus. Dit laat Zuma toe om Ramaphosa se betoog te weerlê teen sy appèl teen ‘n Appèlhof-uitspraak dat die vervolging onwettig en ongrondwetlik is. Hy wil Ramaphosa vervolg as ‘n medepligtige in sy saak teen die aanklaer Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, ontken die saak is onwettig:
# Die minister van Polisie Bheki Cele het onthul dit neem beamptes in die Noord-Kaap gemiddeld meer as ‘n uur om te reageer op geweldsmisdade. Polisiekantore in Gauteng gekoppel aan 10111-bevelsentrums neem elf minute en 56 sekondes om te reageer, terwyl tye in ander provinsies wissel. Die DA se nasionale woordvoerder oor Polisie, Okkie Terblanche, kritiseer dié inligting en skryf dit toe aan hoë misdaadvlakke en ‘n gebrek aan personeel in die diens:
Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê intussen twee-duisend-500 militêre veterane sal by die provinsie se verkeersbeamptes aansluit, om wetteloosheid te help bekamp. Die premier het die rekrute by die Grace Bible Church in Soweto toegespreek en gesê misdaadbrandpunte soos Hillbrow en Sunnyside sal geteiken word. Lesufi sê misdadigers kan nie toegelaat word om te maak soos hulle wil nie:
# Wetenskaplikes waarsku die hittegolf wat tans oor Suidoos-Asië ervaar word, sal nog die res van die maand én die grootste deel van volgende maand voortduur. Die streek met sy meer as 675-miljoen mense in elf lande, leef tans in temperature wat ongekende vlakke bereik het. Maleisië het reeds twee hitteverwante sterftes aangeteken, insluitend ‘n driejarige seuntjie, terwyl Viëtnam ‘n noodtoestand afgekondig het. Die heersende hittegolf word toegeskryf aan ‘n kombinasie van faktore wat mensgemaakte klimaatsverandering en die El Niño-verskynsel insluit.
# Rugby: Springbokaanhangers in die Suid-Kaap kan Sondag twee van hulle helde ontmoet wanneer die Wêreldbekertoer George aandoen. Manie Libbok, wat in die stad matriek geskryf het, en Marco van Stade, sal met die Webb Ellis-trofee spog by die Tuinroete-winkelsentrum en die SA-bekerwedstryd tussen SWD Arende en Boland Kavaliers op Outenikwapark. SA Rugby sê die meeste Bokke is tans besig, maar hulle wil hulle belofte gestand doen om die beker na al die dele van die land te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-300-dollar-en-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-336-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….