Nuus 14:00
BULLETIN 11 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma se privaat vervolging van Ramaphosa word uitgestel tot 6 Augustus
# Die DA beskuldig die ANC-EFF-PA-koalisie in Johannesburg van die misbruik van openbare fondse
# En, die aktrise Alisha Weir is die jongste toevoeging tot 2024 se Forbes 30 Onder 30 Europa-lys
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het oud-president Jacob Zuma se privaat vervolging van president Cyril Ramaphosa uitgestel tot 6 Augustus. Dit laat Zuma toe om Ramaphosa se betoog te weerlê teen sy appèl teen ‘n Appèlhof-uitspraak dat die vervolging onwettig en ongrondwetlik is. Hy wil Ramaphosa vervolg as ‘n medepligtige in sy saak teen die aanklaer Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, ontken die saak is onwettig:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger sê sake-vertroue in die provinsie is hoër as in enige ander provinsie, en hoër as Suid-Afrika se aanwyser. Dit is volgens Rand Merchant Bank en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se jongste Sakevertroue-aanwyser. Wenger sê dit dui ‘n drie-punt verhoging in vertrouevlakke in die Wes-Kaap aan in die eerste kwartaal van vanjaar teenoor die vierde kwartaal van 2023:
# Die DA sê hy sal regstappe doen teen die koalisie van die ANC, EFF en Patriotic Alliance in Johannesburg vir beweerde verkwistende besteding. Volgens die party het die koalisie die besteding van meer as drie-miljoen-rand per maand aan BBP-beskerming en luukse voertuie vir raadshoofde goedgekeur, ‘n stap wat hulle teenstaan. Hulle beskuldig die koalisie daarvan dat hulle luukse byvoordele bo die behoeftes van inwoners stel. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die party sal steeds korrupsie beveg. Sy vra die ontbinding van die stadsraad:
# Tennis: Emma Raducanu keer terug na die Billie Jean King-bekertoernooi vir Groot Brittanje na ‘n afwesigheid van twee jaar. Die Amerikaanse Ope-kampioen van 2021 het haar land net in 2022 verteenwoordig. Die Britse nommer een, Katie Boulter, sê die jong speler sal met ope arms verwelkom word. Groot Brittanje speel die naweek in die kwalifiserende ronde teen Frankryk en Boulter beskou die teenstanders, gelei deur die wêreld nommer 23, Caroline (Carolien) Garcia, as die gunstelinge. Raducanu het teruggesak na 302de op die wêreldranglys nadat sy verlede jaar verskeie operasies ondergaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-574-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Die veertienjarige Ierse aktrise Alisha Weir verskyn op die nuwe Forbes 30 Under 30-lys vir Europa. Sy is die tweede jongste in die geskiedenis wat die lys vir die vermaakbedryf haal. Ander wat op die lys verskyn, sluit in die stigters van die vinnig-groeiende Spaanse straatklerereeks Take the Nude Project, Alejandro Benlloch en Bruno Casanovas. Die 300 stigters en entrepreneurs wat op vanjaar se lys verskyn, bestaan uit 30-persent vroue, 62-persent mans en een-persent nie-binêre persone. Hulle het ‘n totale sosiale media-aanhang van meer as 262-miljoen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….