Eko-minuut 13:30
BULLETIN 11 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Navorsers aan die Universiteit van Pretoria se Departement van Soölogie en Entomologie, en die Landbounavorsingsraad, het nege nuwe valdeurspinnekop-spesies in die Groot-Karoo ontdek. Shannon Brandt van die universiteit sê daar is nou in die Groot-Karoo alleen 23 van hierdie spinnekopspesies:
# Die maatskappy Zero Carbon Charge het planne onthul om 120 sonkrag-fotovoltaïese elektriese vragmotor-laaistasies langs nasionale hoofweë in te stel. Die nuwe filiaal, Zero Carbon Logistics, mik na ‘n rewolusie in die vervoer-infrastruktuur in Suid-Afrika met die land se eerste nie-netwerk, groen-elektriese vragmotorlaainetwerk. Die mede-stigter Joubert Roux sê hulle gaan eerste fokus op die N3-vragroete tussen Durban en Johannesburg. Die stap stem ooreen met die Groenvervoerstrategie, wat ‘n vyf-persent vermindering wil sien in vervoer-verwante koolstofdiosied-uitlatings teen 2050.
# En ten slotte: Wetenskaplikes waarsku die hittegolf wat tans oor Suidoos-Asië ervaar word, sal die res van die maand én die grootste deel van volgende maand voortduur. Die streek met sy meer as 675-miljoen mense in elf lande, leef tans in temperature wat ongekende vlakke bereik het. Maleisië het reeds twee hitteverwante sterftes aangeteken, insluitend ‘n driejarige seuntjie, terwyl Viëtnam ‘n noodtoestand afgekondig het. Die heersende hittegolf word toegeskryf aan ‘n kombinasie van faktore wat mensgemaakte klimaatsverandering en die El Niño-verskynsel insluit.