Nuus 13:00
BULLETIN 11 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nuwe landbou-riglyne word uitgereik vir die in- en uitvoer van lewende hawe
# Cosatu hoop die Grondhof kan die groot agterstand met sake inhaal
# En tennis: Twee van die wêreld se voorste spelers speel vandag in die Monte Carlo-meesterstoernooi
# Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het ‘n riglyn uitgereik wat goedkeuring vereis vir die in- en uitvoer van lewende hawe. Die versterking van voldoening wil dierehandel meer doeltreffend reguleer. In- en uitvoerders moet vir goedkeuring aansoek doen ingevolge die Wet op Diereverbetering, wat vorige permitte vervang. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê uitsonderings sluit in wilde diere, katte, voëls en visse, wat nie goedkeuring nodig het nie:
Cosatu sê intussen hy hoop die nuwe Grondhof sal die agterstand met grondeise uitwis. Dit raak grondeisers, plaaswerkers, huurders en hulle gesinne wanneer hulle grondeise of uitsettingsake indien. Die Kommissie vir die Herstel van Grondregte het verlede jaar gesê dit sal 30 jaar duur en 170-miljard-rand kos om die agterstand te verwerk. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die regering moet seker maak die hof het genoeg hulpbronne:
# Die maatskappy Zero Carbon Charge het planne onthul om 120 sonkrag-fotovoltaïese elektriese vragmotor-laaistasies langs nasionale hoofweë in te stel. Die nuwe filiaal, Zero Carbon Logistics, mik na ‘n revolusie in die vervoer-infrastruktuur in Suid-Afrika met die land se eerste nie-netwerk, groen-elektriese vragmotorlaainetwerk. Die mede-stigter, Joubert Roux, sê hulle gaan eerste fokus op die N3-vragroete tussen Durban en Johannesburg. Die stap stem ooreen met die Groenvervoerstrategie, wat ‘n vyf-persent vermindering wil sien in vervoer-verwante koolstofdiosied-uitlatings teen 2050.
# Tennis: Die kleibaanseisoen is in volle swang met die laaste 16 van die Monte Carlo-meesterstoernooi wat van vandag af speel. Albei die voorste spelers is in aksie. Die nommer-eenspeler, Novak Djokovic van Serwië, pak Lorenzo Musetti van Italië, terwyl nog ‘n Italianer, die nommer-twee, Jannik Sinner, teen die Duitser Jan-Lennard Struff speel. Djokovic sê Sinner is die speler om te klop:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-729-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het sy beste wense oorgedra aan Moslems regdeur die land met die viering van Eid ul Fitr. Hy sê die heilige maand Ramadan sluit spiritualiteit, selfondersoek en goeie dade in wat bydra tot die welsyn van Moslems en mense van ander gelowe. Ramaphosa sê, teen die agtergrond van die menslike lyding, swaarkry en ongeregtighede wat in die wêreld ervaar word, inspireer die gees van Ramadan almal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….