Nuus 09:00
BULLETIN 11 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu bepleit die Eskom-wysigingswet op Skuldverligting om ekonomiese groei te steun
# Die VF Plus sê die Weermag gaan voort om geld op groot skaal te mors
# En Trump se jongste poging om sy swyggeld-verhoor uit te stel, word verwerp
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die Wysigingswetsontwerp op Skuldverligting vir Eskom sal die kragverskaffer help om onderhoud voorop te stel en beurtkrag te beëindig. Hy verwelkom president Cyril Ramaphosa se goedkeuring van die wet, wat deurslaggewend is om Eskom te stabiliseer. Cosatu vra lank reeds die regering se oorname van Eskom se onvolhoubare skuld vir ekonomiese groei en om die nutsmaatskappy te herbou. Woordvoerder Matthew Parks vra volledige planne teen korrupsie, munisipale skuld en tariefverhogings:
# Die Vryheidsfront Plus sê terwyl niks gedoen word om die verval van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te stuit nie, word geld steeds op groot skaal verkwis. Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, sê die munisipale tariewe by die amptelike huis van die Weermaghoof in Waterkloof beloop 251-duisend-128-rand, hoewel die huis leeg staan sedert November 2021. Die party sê die SANW se militêre basisse regdeur die land het só verval dat dit na raming agt miljard rand sal kos om te herstel.
# Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, sê hulle doen alles moontlik om seker te maak Hammanskraal-inwoners kry skoon water. Hy en die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, het gister gaan kyk na die vordering met probleme by die Rooiwal-wateraanleg. Die gebied kry water van watertenkwaens nadat cholera verlede jaar daar uitgebreek het. Brink het erken die opknapping van die Rooiwal-waterbehandelingsaanleg moes al 20 jaar gelede plaasgevind het:
# ’n Regter van die Appèlhof in New York het die jongste poging van oudpresident Donald Trump se prokureurs verwerp om sy swyggeld-verhoor uit te stel. Trump word aangekla dat hy sakerekords vervals het wat verband hou met ‘n betaling aan die filmster Stormy Daniels in die dae voor die 2016-verkiesing. In die jongste poging wou Trump se prokureurs die verhoor onbepaald uitstel terwyl hulle veg om die voorsittende regter, Juan Merchan, te verwyder en verskeie van sy uitsprake te betwis. Die verhoor sal na verwagting Maandag begin.
# Sokker: Die vyfmalige wenners, Barcelona, het Paris St-Germain met drie-twee geklop in die eerste deel van die Kampioeneliga-kwarteind in Frankryk. Andreas Christensen het van die bank gekom om ʼn wendoel te skop vir Xavi Hernández se span. In Spanje het Atletico Madrid ʼn terugveg-poging van Borussia Dortmund afgeweer en loop tans naelskraaps voor met twee-een in aanloop tot volgende week se tweede deel. Dortmund se bestuurder, Edin Terzić, sê hy is tevrede dat hulle steeds ʼn kans het om die halfeindronde te haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-560-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….