Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Nog kunstenaars gaan hulle by diegene aansluit wat volgende maand op die Kaapstadse Internasionale Jazz-fees gaan optree. Onder hulle is die koningin van Afro-jazz, Judith Sephuma, wat platinumstatus bereik het, die Amerikaanse R&B-groep Moonchild, en Tunde Baiyewu van Lighthouse Famly in die VK. Die immer-gewilde Mi Casa is ook op die verhoog. Die feesorganiseerders, espAfrika, sê die groep kunstenaars is ‘n meesterlike kombinasie wat vandag se wêreldwye kultuurvermenging en verhaalkuns verteenwoordig.
# Die Universiteit van Fort Hare sê danssport is die middelpunt van belangstelling die naweek wanneer die instelling se dansers op die Amathole-kampioenskap getoets word. Vanjaar se klas is een van die grootste nadat 40 dansers in Alice ingeskryf het en nog 30 in Oos-Londen. Die afrigter, Thandisizwe Matyumza, sê die fokus van die kampioenskap is om die sterk- en swakpunte van sy dansers te toets in die aanloop tot die eerste amptelike kompetisie volgende naweek in Durban.
# ‘n Nuwe studie deur die Universiteit Stellenbosch het onthul ʼn digitale, speletjie-gebaseerde leerplatform, Minecraft Education, kan leerders help om hul vaardighede in kodering en robotika te verbeter. Die studie het gefokus op die wyse waarop die digitale speletjie geïntegreer kan word as instrument om kodering en robotika in ʼn graad sewe-klas van ʼn skool in Kaapstad te ondersteun. Die studie se skrywer, Michael Vorster, sê Minecraft Education en sy virtuele robot, die Agent, skep ʼn genotvolle leeromgewing.
# Die heersende Mejuffrou Suid-Afrika, Natasha Joubert, het die tweede fase van haar voorspraakveldtog begin met nog tien beurse wat beskikbaar gestel is. Sy werk saam met die rekenaarmaatskappy, ASUS, en die voorste koderingskool, HyperionDev, as deel van haar onderwysafdeling. Individue wat ʼn loopbaan in tegnologie wil volg, sal vir die beurse in aanmerking kom. Joubert sê sy wil so veel moontlik doen op die gebied van onderwys en entrepreneurskap om ʼn verskil in sommige mense se lewens te maak.
# En ten slotte: Die tweemalige Oscar-wenner Renee Zellweger is terug in Bridget Jones: Mad About The Boy, saam met Hugh Grant as die onnutsige Daniel Cleaver. Emma Thompson speel weer Bridget se verloskundige, met die ster van 12 Years A Slave, Chiwetel Ejiofor, en die One Day-akteur Leo Woodall wat by hulle aansluit. Mark Darcy, gespeel deur Colin Firth, is nie dié keer daar nie. In die vierde fliek is Bridget ‘n weduwee in haar vyftigs met twee kinders, nadat Mark ‘n paar jaar vroeër dood is. Die rolprent gaan op Valentynsdag volgende jaar in Amerika vrygestel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….