Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Premier Lesufi verwelkom die einde van e-tol
# Binnelandse Sake stel ‘n nuwe afstandswerkvisum in
# En, gholf: Die verdedigende kampioen, Jon Rahm, slaan saam met Fitzpatrick en Dunlap af in die Amerikaanse Meesters
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi het die einde van e-tol op die provinsie se paaie verwelkom. Dit tree Vrydag in werking. Hy het saam met die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga en die minister van Finansies, Enoch Godongwana, ‘n ooreenkoms bereik met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap oor die Gautengse Hoofweg-verbeteringsprojek. Lesufi sê die provinsiale regering mik nou na die verbetering van paaie en die omskepping van hoofweë in slim-snelweë:
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, het ‘n byvoeging aangekondig tot Suid-Afrika se visum-aanbiedinge, naamlik die afstandswerkvisum. Die visum is ontwerp vir mense wat in ander lande werk, maar afstandswerk wil doen terwyl hulle in Suid-Afrika woon. Dit is gemik op beroepe soos inligtings-tegnologie, ouditering en finansies. Motsoaledi sê aansoekers moet minstens ‘n-miljoen-rand jaarliks verdien en sal vir ses-maande belasting-kwytskelding kry op hulle werksinkomste:
# Eskom in Gauteng het Tshwane se skuldterugbetalingsvoorstel verwerp om sy agterstallige en lopende rekening te vereffen. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, sê die metro se huidige Eskom-skuld beloop 2,9-miljard-rand, waarvan hulle verlede maand 1,23-miljard-rand terugbetaal het. Eskom se woordvoerder, Amanda Qithi, sê hulle het nie die metro se voorstel aanvaar nie weens die negatiewe uitwerking wat dit op die kragnutsmaatskappy se kontantvloei sal hê. Sy voeg by die verslegtende betalingspatrone van Tshwane bedreig Eskom se finansiële bestendigheid.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement herinner ouers hulle het net twee dae oor om aansoeke in te dien vir graad 1- en 8-toelatings in 2025. Die LUR, David Maynier, bevestig 80-duisend-583 aansoeke is ontvang. Hy moedig ouers van die meer as 44-duisend leerders wat nog aansoek moet doen, aan om dit vinnig te doen. Mainier sê tydelike toelatingsentrums is in agt onderwysdistrikte beskikbaar vir dié wat nie toegang het tot die aanlyn portaal nie:
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Jon Rahm, is saam met Matt Fitzpatrick van Engeland en die Amerikaner Nick Dunlap in dieselfde groep vir die 88ste Amerikaanse Meesterstoernooi wat môre op die Augusta National in Georgia begin. Die Spanjaard gaan probeer om die toernooi die tweede agtereenvolgende keer te wen vir die eerste keer sedert die 15-malige Major-kampioen Tiger Woods dit reggekry het. Woods slaan saam met sy landgenoot Max Homa en die Australiër Jason Day af. Die wêreld nommer-een, Scottie Scheffler, is saam met sy Amerikaanse landgenoot Xander Schauffele en Rory McIlroy van Noord-Ierland gegroepeer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-904-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-347-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….