Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die Govan Mbeki-munisipaliteit in Mpumalanga se boete van 200-miljoen-rand vir die oortreding van omgewingswette verwelkom. Die boete wat deur die Bethal-landdroshof opgelê is, is vir die storting van rou en onbehandelde riool in die eMbalenhle-watersuiweringsaanleg en die Watervalhoekrivier tussen November 2019 en September 2020. Die Vervolgingsgesag se woordvoerder, Monica Nyuswa, sê die hof het 50-miljoen-rand van die vonnis vir vyf jaar opgeskort:
# Meer as 100-duisend mense in Rusland en Kazakhstan is gedwing om uit hulle huise te vlug weens die ergste oorstromings in Oos-Europa in sewentig jaar. Dit is veroorsaak deur vinnig smeltende sneeu wat riviere laat afkom het. Reuters berig riviervlakke het binne ‘n paar uur met verskeie meter gestyg om hulle hoogste vlakke ooit te bereik. Die Kremlin sê president Vladimir Putin word gereeld oor die situasie ingelig, maar hy het nie enige onmiddellike planne om die streek te besoek nie.
# En ten slotte: Die Europese Menseregtehof het beslis Switserland se versuim om die klimaatskrisis behoorlik te takel, is ‘n skending van menseregte. Meer as twee-duisend Switserse vroue, die meeste van hulle in hulle sewentigs, het die saak teen die regering aanhanging gemaak. Hulle voer aan die hittegolwe wat klimaatverandering aanvuur, ondermyn hulle gesondheid en lewensgehalte en verhoog hulle risiko om dood te gaan. Dié beslissing is die eerste een van die hof oor klimaatregsoptrede. Daar is nie ‘n reg op appèl nie en die uitspraak is wetlik bindend.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….