Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake stel ‘n nuwe afstandswerkvisum in
# Die DA wen sy saak vir meer buitelandse stemlokale in die komende verkiesing
# En, tennis: Carlos Alcaraz onttrek aan Monte Carlo weens ‘n armbesering
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, het ‘n byvoeging aangekondig tot Suid-Afrika se visum-aanbiedinge, naamlik die afstandswerkvisum. Die visum is ontwerp vir mense wat in ander lande werk, maar afstandswerk wil doen terwyl hulle in Suid-Afrika woon. Dit is gemik op beroepe soos inligtings-tegnologie, ouditering en finansies. Motsoaledi sê aansoekers moet minstens een-miljoen-rand jaarliks verdien en sal vir ses-maande belasting-kwytskelding kry op hulle werksinkomste:
# Die DA het die Verkiesingshof se beslissing verwelkom wat die Verkiesingskommissie se besluit tersyde stel om nie spesiale stemme by konsulate toe te laat nie. Die DA het die OVK en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Februarie hof toe geneem om te versoek dat ambassades, hoëkommissariate en konsulate in volgende maand se algemene verkiesing as stemlokale gebruik word. Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, sê dis ʼn groot oorwinning vir Suid-Afrikaners wat oorsee woon.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê minstens 23 voertuie wat in Suid-Afrika gesteel en in Mosambiek opgespoor is, is terug by hulle eienaars sedert ‘n gesamentlike aksieplan in Februarie verlede jaar ingestel is. Cele en Mosambiek se minister van Binnelandse Sake, Pedro Ronda, het ‘n tegniese werksgroep in Maputo afgehandel. Hy sê albei polisiedienste het die aksieplan onderteken om transnasionale misdaad in die streek te beveg:
# Tennis: Die Italianer Lorenzo Sonego is die gelukkige verloorder wat die derde-gekeurde Carlos Alcaraz op die Monte Carlo-meesterstoernooi vervang. Die Spanjaard moes onttrek weens ‘n besering aan sy regterarm. Hy was vroeër bekommerd oor ‘n enkelbesering wat hom die afgelope tyd gepla het. Alcaraz het onttrek voor hy sy eerste wedstryd van die toernooi teen Felix Auger-Alliasime moes speel. Die Kanadees het nog ‘n Italianer, Luca Nardi, in die eerste ronde in skoon stelle geklop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-106-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-352-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-65-sent per vat.
# Ten slotte: Nog kunstenaars gaan hulle aansluit by diegene wat volgende maand op die Kaapstadse Internasionale Jazz-fees gaan optree. Onder hulle is die koninging van Afro-jazz, Judith Sephuma, wat platinumstatus bereik het, die Amerikaanse R&B-groep Moonchild, en Tunde Baiyewu van Lighthouse Famly in die VK. Die immer-gewilde Mi Casa is ook op die verhoog. Die feesorganiseerders, espAfrika, sê die groep kunstenaars is ‘n meesterlike kombinasie wat vandag se wêreldwye kultuurvermenging en verhaalkuns verteenwoordig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….