Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die Afrika-kampioen, Banyana Banyana, kon nie vir die Olimpiese Spele in Parys kwalifiseer nie nadat hulle op Loftus Versveld in Pretoria sonder enige doele gelykop geëindig het teen Nigerië. Die span kon nie verlede week se een-nul-nederlaag in die eerste deel in Abuja omkeer nie. Dis die tweede agtereenvolgende keer dat Banyana nie vir die Spele kwalifiseer nie. Hulle het die 2020-Spele in Tokio ook misgeloop. Afrigter Desiree Ellis sê hulle is teleurgesteld:
# Krieket: Die eerste eendagwedstryd tussen die Protea-vrouespan en Sri Lanka is gisteraand in Oos-Londen weens aanhoudende reën afgestel. Tazmin Brits het 116 van 128 balle bygedra en die gasvroue se telling op 260 vir ses te staan gebring. Dit was Brits se tweede eendag-hondertal. Sri Lanka kon daarna in net minder as sewe boulbeurte slegs 23 sonder verlies aanteken toe dit begin reën en die wedstryd uiteindelik gestaak is. Die tweede eendagwedstryd is Saterdag in Kimberley.
# Netbal: Transgender-vroue mag nie meer aan internasionale kompetisies vir vroue deelneem nie. Dit vorm deel van Wêreldnetbal se nuwe beleid ten opsigte van deelname en inklusiwiteit. Hulle het na uitgerekte raadpleging tot die slotsom gekom dat internasionale vrouenetbal deur die geslag van deelnemers bepaal word en die beleid is nodig om regverdigheid en veiligheid te verseker. Dit beteken die vrouespel word op internasionale vlak beperk tot spelers wat by geboorte ‘n vrou was of transgender-atlete wat kan bewys hulle het nog nooit die biologiese uitwerking van testosteroon ervaar nie.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Novak Djokovic, het sy eerste wedstryd van die jaar op ‘n kleibaan gemaklik gewen op die Monte Carlo-meesterstoernooi. Die wêreld se nommer-een van Serwië het Roman Safiullin van Rusland 6-1,6-2 verslaan om die derde ronde die 14de keer te haal. Hy kom nou teen die Italianer Lorenzo Musetti te staan wat Djokovic verlede seisoen in dieselfde ronde geklop het. Daar was ook oorwinnings vir Alexander Zverev van Duitsland en Hubert Hurkacz van Pole. Djokovic het Musetti geloof:
# En Wêreldrugby is baie ingenome met wat hy as ‘n waterskeiding-uitspraak beskou nadat ‘n Australiese hof ’n man beboet het vir sy uitskellery van ‘n beampte op sosiale media tydens verlede jaar se Wêreldbeker in Frankryk. Aaron Isaia het die televisiewedstrydbeampte, Brian McNeice, tydens die wedstryd tussen Samoa en Engeland gedreig. Hy het skuldig gepleit. Wêreldrugby het bekendgemaak hy neem stappe om Isaia te verbied om kaartjies vir toekomstige wedstryde te kan koop en sê hulle hoop die vonnis stuur ‘n boodskap dat sulke gedrag totaal onaanvaarbaar is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….