Nuus 12:00
BULLETIN 10 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wen sy saak oor meer stemlokale in die buiteland
# Ses verdagtes word aangekeer vir die moord op die sokkerspeler Luke Fleurs
# En Wêreldrugby verwelkom ‘n vonnis na die aanlyn mishandeling van ‘n Wêreldbeker-beampte
# Die DA het die Verkiesingshof se beslissing verwelkom wat die Verkiesingskommissie se besluit tersyde stel om nie spesiale stemme by konsulate toe laat nie. Die DA het die OVK en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Februarie hof toe geneem om te versoek dat ambassades, hoëkommissariate en konsulate in volgende maand se algemene verkiesing as stemlokale gebruik word. Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, sê dis ‘n groot oorwinning vir Suid-Afrikaners wat oorsee woon.
# Die polisie in Gauteng het ses verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op Kaizer Chiefs se verdediger, Luke Fleurs. Die 24-jarige sokkerspeler is verlede Woensdag in ‘n kapingsvoorval by ‘n vulstasie in die noordweste van Johannesburg doodgeskiet. ‘n Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die verdagtes sal Vrydag in die Roodepoortse Landdroshof verskyn:
# Simon Harris is Ierland se jongste eerste minister nog. Die land se Parlement het die 37-jarige goedgekeur as opvolger vir Leo Varadkar, wat verlede maand onverwags bedank het om persoonlike en politieke redes. Varadkar het Maandag sy amptelike bedanking by president Michael D Higgins ingedien. Harris, die minister vir Voortgesette en Hoёr Onderwys, was die enigste kandidaat om sy naam voor te stel. Hy sal ‘n koalisieregering lei wat bestaan uit sy party, Fine Gael, asook Finna Fail en die Groenparty.
# Rugby: Wêreldrugby is baie ingenome met wat hy as ‘n waterskeiding-uitspraak beskou nadat ‘n Australiese hof ’n man beboet het vir sy uitskellery van ‘n beampte op sosiale media tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk. Aaron Isaia het die televisiewedstrydbeampte, Brian McNeice, tydens die wedstryd tussen Samoa en Engeland gedreig. Hy het skuldig gepleit. Wêreldrugby het bekendgemaak hy doen stappe om Isaia te verbied om kaartjies vir toekomstige wedstryde te kan koop en sê hulle hoop die vonnis stuur ‘n boodskap dat sulke gedrag totaal onaanvaarbaar is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-378-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-353-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: World Travel Market Africa, die vasteland se voorste uitstalling vir die reis- en toerismemark, open vandag in die Kaapstadste Internasionale Konvensiesentrum. Dit verenig beroepslui uit die toerismebedryf, insluitend uitstallers, kopers en die media, vir drie dae lank om sake te doen. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die uitstalling het sedert 2014 sowat 200-miljoen-rand se buitelandse besteding in Kaapstad moontlik gemaak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….