Nuus 09:00
BULLETIN 10 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit verwag taai loononderhandelings in metaal- en ingenieursbedryf
# Die VF Plus is verheug oor minister De Lille se steun vir ‘n toerisme-inisiatief
# En Biden kritiseer Netanyahu se benadering tot die oorlog met Hamas
# Solidariteit sê hy verwag taai loononderhandelings by die Bedingingsraad vir die Metaal en Ingenieurs-bedryf weens ‘n ooreenkoms wat tydens die Covid-19-pandemie-tydperk bereik is. Ingevolge die ooreenkoms is salarisverhogings slegs op die minimum-salarisskaal per posgraad bereken wat die meeste geskoolde werkers op hoër skale benadeel het. Solidariteit sê werkgewers sal nou met dié praktyk voortgaan, wat die ses vakbonde wat betrokke is, sal teenstaan. Die onderhandelings begin vandag in Boksburg.
# Die Vryheidsfront Plus sê die minister van Toerisme, Patricia de Lille steun sy inisiatief ten volle om georganiseerde toerisme op ‘n plaaslike vlak en in landelike gebiede ‘n hupstoot te gee. Die party het verlede jaar ‘n inisiatief van stapel gestuur om die potensiaal van plaaslike toerisme te ontsluit. Meer as 50 moontlike toerisme korridors sal na die suksesvolle skepping van die Vaal-korridor Toerismevereniging oral in die land gevestig word. Michal Groenewald van die VF-Plus sê die minister erken die positiewe bydrae van plaaslike toerisme om die land te verbeter:
# Die DA in Johannesburg sê instellings soos Johannesburg Water en uiteindelik die stadsbestuur laat inwoners in die steek deur nie hulle diensleweringsmandaat na te kom nie. Dit volg na ‘n vierjarige seun verdrink het toe hy in ‘n oorstroomde gat geval het wat Joburg Water in die Clay Oven-informele nedersetting gegrawe het. Vino Reddy van die DA sê die tragedie kon verhoed gewees het as die waternutsmaatskappy die gat weer opgevul het:
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, se benadering tot die konflik in Gaza is verkeerd. Daar is toenemende spanning oor die burgerlike sterftesyfer in die oorlog tussen Israel en Hamas en die haglike toestande in Gaza. Netanyahu sê die oorlog sal voortgaan tot Hamas verslaan is. Biden vra dat Israel instem tot ‘n skietstilstand en sê daar is geen verskoning om nie humanitêre hulp na Gaza te stuur nie.
# Sokker: Manchester City en Real Madrid se eerste kwarteindronde-wedstryd op die Bernabeu het drie elk gelykop geëindig. Josko Gvardiol se doel in die 71ste minuut het op ʼn dramatiese twee-drie-sege vir Pep Guardiola se span gedui, maar Federico Valverde het die telling in die 79ste minuut gelykop gemaak. Op die Emirates-stadion het Arsenal en Bayern Munich se kwarteindstryd gelykop geëindig met twee elk. Guardiola sê hy sal die gelykoptelling aanvaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-52-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-354-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….