Nuus 07:00
BULLETIN 10 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie besin oor die hofuitspraak oor Zuma se kandidatuur
# AfriForum herhaal hy sal die Bela-wetsontwerp betwis as dit wet word
# En krieket: Reën het die laaste sê in die eerste eendagwedstryd tussen die Protea-vroue en Sri Lanka
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê hy win ‘n regsmening in oor die Verkiesingshof se besluit om oudpresident Jacob Zuma toe te laat om aan die verkiesing deel te neem. Die hof het gister beslis Zuma mag as kandidaat staan om as parlementslid van die uMkhonto weSizwe-party aangewys te word. Die OVK sê die hof moet redes verskaf sodat hy die basis waarvolgens die besluit geneem is, kan verstaan en besluit hoe om met die saak voort te gaan.
# AfriForum is gereed om met regsoptrede te begin indien die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette as wet bekragtig word. Die wetsontwerp wysig dele van die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 in reaksie op administratiewe en beheerprobleme by skole, en om die onderwysstelsel as geheel te hervorm. Alana Bailey van AfriForum sê dis duidelik die Bela-wetsontwerp is onwenslik en onuitvoerbaar:
# Die Departement van Gesondheid stel vandag ‘n baanbrekende inisiatief bekend om tienerswangerskap te voorkom met die bekendstelling van die eerste selfdien-outomaat in Mthatha, in die Oos-Kaap. Die outomaat dra ‘n verskeidenheid voorbehoedmiddels en items vir die voorkoming van MIV, en is veral op meisies en vroue van vrugbare ouderdom gemik. Die woordvoerder van die departement, Foster Mohale, sê die inisiatief is in reaksie op ‘n kommerwekkende toename in adolessente swangerskappe, met meer as elf-duisend-500 meisies tussen 10 en 14, wat die afgelope drie jaar geboorte geskenk het in openbare gesondheidsfasiliteite:
# Meer as 100-duisend mense in Rusland en Kazakhstan is gedwing om uit hulle huise te vlug weens die ergste oorstromings in Oos-Europa in sewentig jaar. Dit is veroorsaak deur vinnig smeltende sneeu wat riviere laat afkom het. Reuters berig riviere het binne ‘n paar uur met verskeie meter gestyg om hulle hoogste vlakke ooit te bereik. Die Kremlin sê president Vladimir Putin word gereeld oor die situasie ingelig, maar hy het nie enige onmiddellike planne om die streek te besoek nie.
# Krieket: Die eerste eendagwedstryd tussen die Protea-vrouespan en Sri Lanka is gisteraand in Oos-Londen weens aanhoudende reën gestaak. Tazmin Brits het 116 van 128 balle bygedra en die gasvroue se telling op 260 vir ses te staan gebring. Dit was Brits se tweede eendag-hondertal. Sri Lanka kon daarna in net minder as sewe boulbeurte slegs 23 sonder verlies aanteken toe dit begin reën en die wedstryd uiteindelik gestaak is. Die tweede eendagwedstryd is Saterdag in Kimberley.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-944-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-352-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die heersende Mejuffrou Suid-Afrika, Natasha Joubert, het die tweede fase van haar voorspraakveldtog begin met nog tien beurse wat beskikbaar gestel is. Sy werk saam met die rekenaarmaatskappy, ASUS, en voorste koderingskool, HyperionDev, as deel van haar onderwysafdeling, Natasha Joubert Collective. Individue wat ʼn loopbaan in tegnologie wil volg, sal vir die beurse in aanmerking kom. Joubert sê sy wil so veel moontlik doen op die gebied van onderwys en entrepreneurskap om ʼn verskil in sommige mense se lewens te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….