Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Verkiesingshof het die Verkiesingskommissie se besluit wat oudpresident Jacob Zuma verbied om aan die verkiesing deel te neem, ter syde gestel. Zuma kan dus nou ná die verkiesing in aanmerking kom vir ‘n setel in die Nasionale Vergadering.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die Verkiesingshof se beslissing. Volgens die MK-party wil Zuma weer president word. Die party wil ook hê Janet Love moet as kommissaris van die Verkiesingskommissie bedank omdat sy volgens hulle teen Zuma gekant is.
Dan skryf die koerant die Suid-Afrikaanse Weerdiens het voorspel dat die noorde van die land moet voorberei vir ‘n warmer winter.
En laastens is daar nuus oor die televisiereeks, Lotoland help ‘n dorp wat van vanaand weer op kykNET te sien sal wees.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Verkiesingshof se beslissing is nog ‘n deurbraak vir Zuma.
En berig wyle Markus Jooste van Steinhoff se gewese minares, Berdine Odendaal wil ‘n inkomste van 150-duisend-rand ‘n maand hê.
# Sowetan:
Berig politieke ontleders is van mening die beslissing oor Zuma laat kantel die skaal in sy guns.
# En The Citizen:
Lei met: “ZUMA’S BIG COMEBACK”. Die koerant skryf Zuma sê hy het onafgehandelde sake in die Uniegebou.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Jacob Zuma.
Dan skryf die koerant oor die ernstige skade wat deur stormwind op ‘n plaas in buite Bultfontein aangerig is.
En laastens is daar nuus oor ‘n lid van die verkeerspolisie wie se voertuig voor ‘n taverne geskut is terwyl die lid aan diens was.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos Beeld en Volksblad met die beslissing oor Jacob Zuma.
Dan word berig talle paaie in die Overberg, Kaapse Wynland, Kaapstad, die Tuinroete en Sentraal-Karoo is steeds gesluit weens oorstromings.
En laastens skryf die koerant oor ‘n vrou wat na haar dood geval het in die berge rondom die Wemmershoekdam. Wildernis se noodspanne het 24 uur gesukkel om haar liggaam uit die berg te verwyder.
# En Cape Times:
Skryf Zuma se terugkeer na die politiek is besig om momentum te kry.
En berig tweedens vanjaar se program vir die Jazz-fees gaan duisende lok.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Hooggeregshof in Gqeberha het bevind Anele Qaba voldoen nie aan die kriteria as hoofbestuurder van die Mandelabaai Ontwikkelingsagentskap nie en hom uit die pos verwyder.
En tweedens skryf die koerant nooddienswerkers in Nelson Mandelabaai verrig nie meer hul diens sonder polisiebegeleiding nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met die enkele woord “VINDICATED”. Die koerant skryf die MK-party is vasbeslote dat Zuma nog ‘n kans het om president te word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig About Africa sê sy konsessie beoog om meer as 100-miljoen-rand na die gemeenskappe in die omgewing van Sossusvlei te herlei.
En berig die begroting van een-miljard-rand vir die watersektor van die Departement van Landbou, Water en Grondhervorming verteenwoordig ‘n verhoging van byna 40-persent.