Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 April
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Gautengse sanger Michael Ferguson het Suid-Afrika trots gemaak op Idols Austria al het hy nie die eindronde gehaal nie. Die oud-leerder van Pretoria Boys High bevind hom op wêreldverhoë en hy sê dit maak hom trots om sy talent oorsee ten toon te stel. Uitdagings met die pandemie het hom na Wenen gelei waar hy groot aanklank by plaaslike gehore gevind het met streektreffers soos Better Together. Sy komende album beloof ‘n samevloeiing van Suid-Afirkaanse en Oostenrykse invloede wat sy liefde vir albei lande tentoonstel.
# Die hip-hop-ikoon, Missy Elliott, gaan haar eerste toer ooit onderneem, waar sy die hoofitem op die program sal wees. Die toer, onder die titel, Out of This World: The Missy Elliott Experience Tour, sal in arenas in 24 stede gehou word, wat begin in Vancouver op vier Julie, en eindig in Rosemont, Illinois, op 22 Augustus. Busta Rhymes, Ciara en Timbaland, sal saam met haar toer. Verlede jaar het Elliott geskiedenis gemaak deur die eerste vroulike hip-hop-kunstenaar te word wat in die Rock and Roll –heldesaal opgeneem is.
# Die Universiteit Stellenbosch het Afrika se eerste laboratorium vir beleids-vernuwing bekendgestel in samewerking met die Presidensie, Duitsland en die Bill en Melinda Gates-stigting. Die laboratorium ondersoek die gebruik van datawetenskap en instrumente van kunsmatige intelligensie om probleme in beleidsamestelling op te los. Die vise-kansellier, Wim de Villiers, sê die laboratorium is ‘n gevorderde program en voldoen aan die universiteit se strewe vir trans-dissiplinêre navorsing met ‘n maatskaplike uitwerking.
# Biblioteke in die Mitchells Plain-omgewing in Kaapstad word tans omskep in kreatiewe sentrums. ‘n Maatskappy sonder winsbejag, Pe’tor Creatives Youth Development, gebruik die sentrums om die jeug in die modebedryf te bemagtig deur middel van slypskole. Hulle maak die jongmense touwys met kunsvlyt en kleremaak, om hulle op dié wyse met entrepreneurs-vaardighede toe te rus. Die slypskole word weekliks gehou. Die maatskappy wil só bydra tot ekonomiese groei en die bemagtiging van gemeenskappe in die Wes-Kaap.
# En ten slotte: Die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap sê sy komende ope-skaaktoernooi sal groter en beter wees as ooit tevore. Vanjaar se deelnemers sal meeding om ‘n totale prysgeld van 20-duisend-rand, die grootste in die toernooi se dekadelange geskiedenis. Dit is verhoog an verlede jaar se 12-duisend-500-rand. Vodacom sal ook toppresteerders met 80 gigagrepe data beloon. Verlede jaar se wenner was Brighton Mthunzi van Johannesburg. Deelnemers sal in vier afdelings meeding, naamlik dié vir prestige, intermediêre, junior en ontwikkelende spelers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….