Nuus 09:00
BULLETIN 9 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
## Die DA sê die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het weereens bevestig Nasionale Gesondheidsversekering is onbekostigbaar
# Die MK-party kritiseer die afleggings by die Suid-Afrikaanse Poskantoor
# En nóg reënval en moontlike oorstromings word vandag in George verwag
# Die DA sê die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging moet gelukgewens word omdat hy vir die waarheid opstaan oor Nasionale Gesondheidsversekering. Die vereniging het onlangs aan die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, gesê Suid-Afrika is nie gereed vir gesondheidsversekering nie. Michele Clark van die DA sê die vereniging het opnuut beklemtoon NGV bied geen oplossing vir uitdagings soos die personeeltekort in die openbare gesondheidstelsel nie:
# Die uMkhonto we Sizwe-party sê die aflegging van vier-duisend-700 personeellede by die Suid-Afrikaanse Poskantoor is nie net koudhartig nie, maar ook roekeloos in dié tyd. Die posverminderings is minder as die ses-duisend wat aanvanklik beplan was, ná oorlegpleging met vakbonde by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. Die Poskantoor sal ses-duisend-383 personeellede oorhê, teenoor elf-duisend-en-83 voor die afleggings. Die MK-party sê die afleggings is tekenend van ‘n breër patroon van sistemiese disinvestering en aftakeling van staatsondernemings onder die ANC-regering.
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap sê rampbestuursdienste is gereed om enige noodgevalle te hanteer. Nóg swaar reënval met moontlike kitsvloede word vandag in die munisipaliteit verwag. Courtnay- en Hopestraat in die sakekern is tans oorstroom. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê motoriste word gemaan om versigtig te bestuur:
# Die Britse regering, in samewerking met Billike Energie-oordrag in Suid-Afrika, sal die grootste battery-energiestoorprojek in Afrika in die Noord-Kaap befonds. Die projek van 153-megawatt en ter waarde van 5,7-miljard-rand, word deur die Britse maatskappy, Globeleq, bestuur. Dit is daarop gerig om oortollige energie uit hernubare bronne soos sonkrag en wind te berg, wat Suid-Afrika se pogings bevorder om die vrystelling van koolstof te verminder en om die bestendigheid van kragvoorsiening te verbeter. Die Britse Hoё Kommissaris, Anthony Phillipson, benadruk die VK se verbintenis tot die ondersteuning van Suid-Afrika se energiedoelwitte en die vermindering van die vrystelling van kweekhuisgas.
# Krieket: Die verdedigende kampioen in die Indiese Premierliga, die Chennai Super Kings, is weer op die wenpad ná ‘n oorwinning van sewe paaltjies oor die Kolkata Knight Riders op die Chepauk. Tushar Deshpande en Ravindra Jadeja het elk drie paaltjies geneem en gehelp om Kolkata in hul 20 boulbeurte tot 137 vir nege te beperk. CSK het sy derde sege in vyf wedstryde behaal met die hulp van sy kaptein, Ruturaj Gaikwad, se 67-nie-uit-nie van 58 balle. Gaikwad sê dit is noodsaaklik om by die toestande aan te pas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-330-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….