Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig, Sasol se aandeleprys het gestyg nadat dié energie- en chemiese groep suksesvol was om sy uitlaatgasse in Secunda op ‘n ander wyse te laat meet. Die koerant skryf, dié beslissing maak die deur oop vir moontlike regsaksie deur omgewingsaktiviste.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor voorvalle die afgelope naweek waartydens ysterpenne, klippe en selfs ‘n pop op snelweë rondom Pretoria geplaas is om motoriste te beroof. Minstens tien voorvalle het op die Platinum-hoofweg, die N1 en die N4 voorgekom.
Dan skryf die koerant oor die dood van die afrigter van die Hoërskool Brits se eerste span, die 26-jarige Morné Badenhorst, in ‘n motorongeluk.
En laastens is daar nuus oor drie onderwysers van die Hoërskool Die Wilgers wat die afgelope vakansie verloof geraak het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf, die Hooggeregshof in Johannesburg sal vandag besluit of oudpresident Jacob Zuma aan die verkiesing mag deelneem.
En berig oor drie soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in die DRK dood is.
# Sowetan:
Berig, duisende pendelaars is gestrand gelaat nadat die Gautengse Departement van Vervoer die Soweto/Johannesburg-taxiroete gesluit het weens die voortslepende geskil tussen taxiverenigings.
# En The Citizen:
Skryf, ‘n prokureur is van mening sakeondernemings in Boksburg wat ‘n verlies gelei het weens kragonderbrekings kán moontlik eise instel teen die Ekurhuleni-metro. Dit volg nadat die metro erken het, die kabels wat die probleem veroorsaak het was reeds verby hulle vervaldatum.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig, die Weerdiens waarsku daar kan vandag steeds swaar neerslae en donderstorms voorkom in die Noord-Kaap en Vrystaat. Minstens een persoon is dood, nadat ‘n munisipale werker van Kroonstad in vloedwater verdrink het.
En tweedens skryf die koerant oor die 28-jarige Marius Joubert van Hennenman wat selfdood gepleeg het deur sy hande na bewering in sy slanghokke te druk.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die voortdurende vrese dat nóg oorstromings in die Wes-Kaap kan voorkom. Die koerant berig oorstroomde paaie het tot ernstige verkeersprobleme gelei en die Weerdiens waarsku dat modderstortings steeds kan voorkom.
En tweedens word berig, die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula kan tot 15-jaar tronkstraf gevonnis word indien sy skuldig bevind word.
# En Cape Times:
Skryf, die Wes-Kaapse storms het reeds miljarde rand se skade aangerig.
En berig ook oor die hofbeslissing oor Zuma wat vandag afgewag word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig, misdaadsindikate het klinieke in Nelson Mandelabaai oorgeneem. Daar is inbrake en diefstalle en personeel is selfs die slagoffers van gewapende rooftogte. Die afgelope naweek het ses rowers probeer om ‘n ambulans by die KwaZakhele-kliniek te steel.
En tweedens skryf die koerant, stormweer en swaar neerslae word van vandag af vir Nelson Mandelabaai voorspel.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf, die beskuldigdes in die AKA-moordsaak voer aan dat die polisie se klopjag onwettig was.
En berig tweedens, KwaZulu-Natal het die meeste onopgeëisde liggame in Suid-Afrika.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig, Namibië het sy ambassadeur in Senegal, Elvis Shiweda, herroep te midde van bewerings dat hy probeer het om ’n Namibiese personeellid by die ambassade te verkrag.
En skryf tweedens, die Namibiese ministerie van Landbou, Water en Grondhervorming het ’n begroting van meer as 1,93-miljard-rand in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê vir die volgende boekjaar.