Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaap aktiveer sy rampreaksie te midde van swaar weersomstandighede
# Johannesburg se Noodbestuursdiens is op hoë bystand na ‘n vlak-twee weerwaarskuwing
# En, krieket: Rajasthan en Kolkata is die enigste onoorwonne spanne in die IPL
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die Gesamentlike Operasionale Sentrum geaktiveer om die provinsiale rampreaksie te koördineer. Die gebiede wat die swaarste getref is sluit in die Kaapse Wynland-, Overberg- en Weskusdistrikte, met die Tuinroete wat ook swaar reën verwag. Winde het bevestig Eskom is besig om kragtoevoer te herstel na gebiede wat geraak is. Hy sê alle brande is onder beheer, maar baie inwoners het hulle huise verloor. Winde bevestig die provinsiale regering en sy vennote mobiliseer alle bronne om die toestande te bestuur en te verlig.
Johannesburg se Noodbestuursdiens is intussen op hoë gereedsheidsgrondslag nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ‘n vlak twee-waarskuwing uitgereik het oor swaar donderstorms oor meeste dele van die stad. Inwoners in laagliggende gebiede moet waaksaam bly en jong kinders dophou wanneer hulle strome oorsteek. Die nooddiens se woordvoerder, Robert Mulaudzi, sê in geval van lewensbedreigende noodgevalle moet inwoners die noodsentrum skakel by 011 375 5911:
# Mango se sakereddingspraktisyn, Sipho Sono, beloof die deursigtige verkoop van die laekoste-lugdiens, wat deur SAL besit word. Sono verduidelik SAL sal nie wins maak uit die verkoop nie weens ‘n gebrek aan bates. Hy sê die suksesvolle bieër moet die vermoë bewys om bedrywighede weer aan die gang te kry:
# Die Universiteit van Noordwes het die lidmaatskap beëindig van 15 lede van die Vanderbijlparkse studentekampusraad nadat hulle skuldig bevind is aan wanoptrede wat betref die statuut en beleid oor studentedissipline. Die komitee se bevindings en straf is Woensdag afgehandel, en die lede is dienooreenkomstig ingelig. Die universiteit sal nou die 15 vakante poste vul om doeltreffende studentebeheer op die kampus te verseker.
# Krieket: Rajasthan Royals en Kolkata Knight Riders is die enigste oorblywende onoorwonne spanne na die eerste drie weke van die Indiese Premierliga. Rajasthan is boaan die punteleer met agt punte nadat hulle hul eerste vier wedstryde gewen het. Hulle het 16 jaar gelede in die eerste IPL-seisoen hul enigste titel ingepalm. Kolkata het ses punte nadat hulle hul eerste drie kragmetings gewen het. Hulle is nou gelykop met Lucknow Super Giants, maar voor op die netto-lopiekoers, met Lucknow wat drie van hulle eerste vier kragmetings gewen het. Kolkata speel vandag teen Chennai Super Kings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-542-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-340-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….