Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party nader die hof om Zuma op die stembrief te kry
# Die ondersoek na die Enyobeni-taverne-tragedie begin
# En, sokker: Banyana wil die agterstand teen die Super Falcons omkeer
# Die uMkhonto we Sizwe-party glo die bevestiging van die Verkiesingskommissie se beswaar teen oudpresident Jacob Zuma se kandidaatskap verteenwoordig basies die skending van ‘n individu se reg om aan die politiek deel te neem. Die party nader die Verkiesingshof om die OVK se besluit uit te daag om Zuma te verbied om deel te neem aan die verkiesing. Die party se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het in sy betoog die hantering van Zuma se tronkstraf gekritiseer, en gesê hy is sy grondwetlike reg tot ‘n regverdige verhoor ontneem:
# Die geregtelike ondersoek na die tragedie in die Enyobeni-taverne het vandag in die Streekhof in Mdantsane in die Oos-Kaap begin. Die ondersoek sal na verwagting ‘n feitesending wees om te bepaal wie aanspreeklik gehou moet word vir die voorval wat in Junie 2022, tydens ‘n kwartaal-eindpartytjie, die lewens van 21 tieners geёis het. Die eienaars van die taverne, Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu, is in Februarie in die Streekhof in Oos-Londen skuldig bevind aan die verkoop van drank aan minderjariges, en elkeen tot ‘n boete van vyf-duisend-rand of gevangenisstraf van 100-dae gevonnis.
# Die Kaapstadse Verkeersdepartement maak motoriste bedag op voorgesette padsluitings weens die sterk wind oor die naweek. Woordvoerder Maxine Bezuidenhout sê dit sluit in dele van Baden Powell-weg weens sand, Houtbaai se Hoofweg weens herstelwerk aan gebarste pype, Kloofweg weens bourommel en Chapmanspiek- en Clarence-rylaan weens moontlike rotsstortings tydens gure weer:
# Die Franse mediareus, Canal+ (ka-NAAL PLOES) het ‘n verpligte oornameaanbod vir MultiChoice gemaak en bied 125-rand per aandeel aan, ‘n beduidenswaardige verhoging teenoor sy vorige aanbod. Die grootste betaal-TV-diens in Afrika het Standardbank as onafhanklike kenner betrek om die aanbod te oorweeg. Canal+ beoog om sy teenwoordigheid in Afrika te vergroot om met globale deelnemers soos Disney en Netflix mee te ding. Canal+ se moedermaatskappy, Vivendi (wie-WEN-die), oorweeg dit om in verskillende afdelings op te breek wat moontlik aan Suid-Afrikaanse beleggers die geleentheid mag bied om deel te neem.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, is optimisties terwyl hulle voorberei vir môre se tweede skof van hulle kragmeting met die Super Falcons van Nigerië op Loftus Versveld. Ellis glo haar span kan sake omkeer ondanks ‘n nederlaag van 1-0 in die eerste wedstryd. Sy reken tuisvoordeel sal Banyana help kwalifiseer vir vanjaar se Olimpiese Spele, waar hulle by Spanje, Brasilië en Japan in Groep C kan aansluit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-822-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-337-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus…..