Nuus 09:00
BULLETIN 8 April 9 vm.
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tax Justice SA kritiseer tabakvervaardigers omdat hulle die Inkomstediens hof toe vat
# Die swaar reënval help brandbestryders om veelvuldige brande in die Kaapse Wynland te bekamp
# En ‘n veerbootramp in Mosambiek eis meer as 90 slagoffers
# Tax Justice South Africa doen ‘n beroep op tabakvervaardigers om hul regstappe teen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens terug te trek. Die Fair-Trade Independent Tobacco Association, wat verskeie kleiner tabakprodusente verteenwoordig, vra die Pretoriase Hooggeregshof om die Inkomstediens te verbied om die nuwe pakhuiskamera-reël in te stel omdat dit die grondwetlike reg op privaatheid skend. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê FITA se houding weerspieël ‘n selfvoldaanheid wat daartoe gelei het dat die land in ‘n bendeparadys ontaard:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê die swaar reën deur die nag was deurslaggewend om verskeie brande regdeur die distrik in bedwang te bring. Die brande by die Drakenstein Korrektiewe Dienste en Paarlberg is onder beheer. Die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, sê die Blaauwklippen-brand is onder beheer en die Stellenbosch-munisipaliteit bly waaksaam totdat die gebied veilig is:
# Meer as 90 mense, insluitend kinders, is dood toe ‘n veerboot aan die noordkus van Mosambiek gesink het. Die owerheid sê die boot wat voorheen as vissersboot gedien het, was met sowat 130 mense van Lunga onderweg toe dit aan die kus van die Nampula-provinsie in die moeilikheid geraak het. Vyf mense is gered. Nampula se minister, Jaime Neto, sê die meeste passasiers wou uit Mosambiek padgee nadat vals inligting oor cholera paniek veroorsaak het. Nampula is een van die provinsies wat die ergste deur ‘n cholera-uitbreking geraak word.
# Sokker: Liverpool se gelykop-uitslag van 2-nul teen Manchester United op Old Trafford het verhoed dat hy weer to boaan die Premierliga se punteleer skuif. Luis Diaz het Liverpool se eerste doel in ‘n eensydige eerste helfte aangeteken, waarna, Kobbie Mainoo en die kaptein, Bruno Fernandes, die tuisspan ná rustyd met 2-1 laat voorloop het. ‘n Laat strafdoel deur Mohamed Salah het dit 2-elk gemaak en die Reds laat terugskuif tot onder Arsenal weens ‘n doeleverskil. Liverpool se bestuurder, Jurgen Klopp, sê hulle moes eintlik gewen het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-378-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-77-sent per vat.
# En ter afsluiting, President Cyril Ramaphosa woon dié week ‘n Geloofsbriefplegtigheid van aangewese Hoofde van Sendings in Pretoria by. Hierdie amptelike diplomatieke dokumente word aan die president oorhandig deur ambassadeurs wat benoem is deur hulle onderskeie regerings om in Suid-Afrika te dien. Onder diegene wat hulle geloofsbriewe oorhandig is die verteenwoordigers van Rwanda, die Switserse Konfederasie, Maleisië, Italië, Mongolië, Tanzanië, Koeweit, Belarus, die Dominikaanse Republiek, Korea, Kenia, Nieu-Seeland, Iran en Suriname.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….